Eldoraigne se eerste sewestoernooi
Hoërskool rugbydag sorg vir sportvermaak.
Hoërskool Eldoraigne het Saterdag hul eerste sewestoernooi gehou. Sewe hoërskoolspanne het teen mekaar meegeding – Eldoraigne, Garsfontein, Tygerberg, Waterkloof, Montana, Monument en Pretoria Tegnies.
Die dag was propvol aktiwiteit en vlooimark- en kosstalletjies is vroegdag al langs die rugbyveld opgeslaan.
Dr. Henning Gericke, oud-atleet en sportsielkundige wat gehelp het om die Springbokke te lei na hul oorwinning in die Wêreldbeker-eindstryd in 2007, het die spanne eers toegespreek en aangemoedig om hul beste te lewer. Hy het hulle egter herinner dat oorwinning nie alles is nie. “Elke kampioen wat ek al ooit teëgekom het, het in een of ander stadium van sy loopbaan ’n terugslag beleef.”
Die eerste wedstryd het om 08:30 afgeskop, toe hoërskole Waterkloof en Tygerberg mekaar getakel het. Waterkloof het Tygerberg met 28 punte teen 17 geklop.
In die tweede wedstryd het Garsfontein vir Monumentpark platgetrap en ’n maklike oorwinning behaal.
Trompoppies het ook opgetree en verskeie klein kompetisies is deur die loop van die dag gehou.
Die hitte van die somersdag het nie gekeer dat die spelers alles uithaal nie.
Die twee spanne wat deurgedring het na die eindstryd was Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Monument maar die Garsies het uiteindelik geseevier.
Hoërskool Eldoraigne sê hulle beoog om die sewestoernooi ’n jaarlikse gebeurtenis te maak.
Vir meer skolenuus, besoek Rekord se Facebook-blad en volg ons op Twitter.
