CrimeLocal newsNews

Hond oorleef vermoedelike vergiftiging

Moot-vrou verlig nadat haar hond 'n mislukte vergiftiging oorleef het.

‘n Villieria-vrou is ontsteld omdat haar Jack Russel-teef Sondag siek geraak het nadat sy vermoedelik vergiftig is.

Sue Theron het Sondag ‘n stuk biltong voor haar hek in 25e Laan opgetel. Omdat haar hond, Lilo, baie siek was en opgegooi het, het Theron haar dadelik veearts toe geneem om vir gif te toets.

“Die veearts kon geen spoor van gif vind nie, maar ek dink dat sy wel iets ingekry het. Lilo is al bietjie oud maar sy was nog altyd ‘n baie gesonde hond,” het Theron gesê.

Volgens Theron het die biltong baie verdag gelyk en dit het reg voor haar hek gelê, met die plastiekhakie nog daaraan vas. Theron se huis grens aan ‘n spruit en volgens haar is daar sluipslapers in die gebied.

“Ek is al raadop en voel skoon magteloos, want die spruit lyk baie sleg en mens weet nooit of die sluipslapers iets te doen het met die vergiftiging van honde in die gebied nie,” het sy gesê.

Kaptein Brits, woordvoerder van die Villieria-polisiekantoor, sê daar tans geen tendens van hondevergiftiging in die gebied nie en dat niemand in die jongste tyd ‘n soortgelyke probleem ondervind het nie.

Lilo is weer op en wakker en Theron is bly dat haar hond nie blywende skade van die vermeende vergifting opgedoen het nie.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button