Local newsLocal sportNewsSchoolsSport

Seun (11) draf saam met Bulls uit as gelukbringer

'n Graad 5-leerling aan die Laerskool Hennopspark in Centurion het Saterdag 'n geleentheid gekry wat vir min seuntjies beskore is; hy het langs sy Blou Bul-helde op die veld uitgedraf.

‘n 11-jarige seun van die Laerskool Hennopspark in Centurion se grootste droom het Saterdag waar geword nadat hy as die Vodacom Blou Bulle-gelukbringer (mascot) op Loftus Versveld uitgedraf het.

Keenan Pieters, wat self ‘n kranige rugbyspeler is, het na die drafsessie uitasem aan sy ouers gesê: “Julle sal my nie glo nie, maar Pierre Spies het na my toe gekom en gevra of ek Keenan is.”

Volgens sy ma, Nicolette Pieters, was Keenan geskok dat Spies sy naam geken het. “Pierre het ‘n kort gesprek met hom in die tonnel gevoer net voordat hulle op die veld uitgedraf het. Keenan kon nie uitgepraat raak oor hoe vriendelik Pierre is nie.”

Die selfoonreus Vodacom bied af-en-toe die geleentheid aan werknemers se kinders om saam met die Blou Bulle uit te draf.

Die inisiatief word geborg deur Openfield, wat ‘n Vodacom borgskapagentskap is.

Keenan was net een van ‘n paar seuns (dogters stel gewoonlik nie belang om saam met die Blou Bulle uit te draf nie) aan wie die geleentheid gebied is.

Die groot geleentheid was nogal tydens die naelbyt-wedstryd teen die Crusaders. “Keenan het toe sommer ook sy televisiedebuut gemaak,” het Nicolette met haar seun gespog.

“Ek het vir die kompetisie ingeskryf en gewen,” het Nicolette vertel. “Ons het ná die wedstryd gehoop om Pierre se aandag te trek sodat Keenan sy handtekening kon kry. Pierre het dadelik na Keenan gestap en sy handtekening op Keenan se T-hemp aangebring. Kieran Read, die kaptein van die Crusaders, het ook Keenan se gesig onthou en het ook op sy T-hemp geteken. Die hemp hang in sy kamer en ons gaan dit vir hom raam sodat hy die oomblik altyd sal onthou.”

Keenan se rugbyheld is Victor Matfield en sy droom is om eendag vir die Blou Bulle as slot uit te draf.

Keenan Pieters spog met sy T-hemp waarop Pierre Spies en Kieran Reed van die Crusaders geteken het.
Keenan Pieters spog met sy T-hemp waarop Pierre Spies en Kieran Reed van die Crusaders geteken het.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button