Sypaadjie-rommel wat deur Tshwane-metro se werkers voor ‘n erf gelaat is, versper ‘n deel van die huis oprit en die inwoner sê die rommel is nadelig vir sy vrou se gesondheid.
Johan van der Westhuizen sê die rommel maak dit moeilik vir ‘n ambulans in hulle erf te kom wanneer sy vrou hospitaal toe geneem moet word.
“My vrou het motor neuron-siekte en as sy hospitaal toe moet gaan, is dit moeilik met al die rommel wat die oprit versper. Wat gaan die metro doen as iets met my vrou gebeur omdat die ambulans nie in ons erf kon kom nie?” vra Van der Westhuizen.
Van der Westhuizen se kleindogter, Jacolien van der Walt, sê die sypaadjie-rommel is sedert Februarie voor die huis.
“‘n Waterpyp het voor ons erf gebars. My ma het die munisipaliteit gebel en dit aangemeld. Hulle was vinnig daar om die pyp te herstel, maar tot en met vandag was hulle nog nie weer daar om die opgekapte sypaadjie te herstel en die konstruksierommel te verwyder nie,” sê Van der Walt.
Sy sê die persoon wat aangestel is om die sypaadjie te kom herstel, sê hy wag vir ‘n tender om die sypaadjie te herstel, maar niks gebeur nie.
Van der Westhuizen het ook aan Rekord gesê die rommel spoel oor die oprit wanneer dit reën en dan moet hulle dit uit die pad stoot om in en uit hulle erf te kom.
“Ek het my gras altyd mooi gesny, maar nou gaan dit my geld kos om dit weer netjies te kry,” sê Van der Westhuizen.
Die familie is baie ongelukkig en sê die metro het verbrou.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
