Oos-inwoner gatvol oor sinkgat
'n Singat, wat bykans 30 meter diep is, het al langer as 'n jaar gelede langs die R21-hoofweg verskyn, maar dit blyk nou asof nie een van die betrokke entiteite (die Tshwane metro, Sanral of die waterraad) verantwoordelikheid daarvoor wil aanvaar nie.
Daar is ’n gat in die grond en misdadigers loop daar oor.
Dave Grobler, ’n sakeman en eienaar van ’n eiendom in Makoustraat in Monumentpark, voel al soos Leon Schuster: gatvol oor die sinkgat wat op sy eiendom verskyn het en vir wie niemand (nie Tshwane metro, die waterraad of Sanral) verantwoordelik wil aanvaar nie.
Grobler mag ook nie die sinkgat, wat bykans ’n jaar later sewe meter in oppervlak en bykans 30 meter diep is, opvul nie, want die raad se geologiese spanne het hom aanbeveel om dit nie te doen nie.
“Dit is ’n ramp wat net wag om te gebeur,” het Bronwyn Engelbrecht, raadslid van wyk 42, verlede Donderdag gesê nadat misdadigers vroeër op ’n manier deur die gat gekom het in ’n poging om in te breek.
Die sinkgat het verlede jaar in Maart op die agterste deel van Grobler se eiendom verskyn.
Sy grensmuur is reg langs die R21-hoofweg wat met Solomon Mahlangu kruis.
Intussen het sy muur ook ingeval en misdadigers kan net so maklik na sy buurman se eiendom deurglip.
Grobler sukkel al bykans ’n jaar om antwoorde uit die raad te kry.
“Die probleem wat hier ter sprake is, is dat die grond aan drie verskillende entiteite behoort; die stadsraad, die waterraad en SA National Road Agency Limited (Sanral),” het Engelbrecht gesê.
Die raad het al geologiese spanne uitgestuur en erken dat die sinkgat net groter kan word en dat dit dan ’n ramp kan veroorsaak. Maar skouers word net opgehaal, want dit gaan glo derduisende rand kos om die skade (soos waterpype wat onderdeur die hoofweg gaan) te herstel.
Rekord het e-posse waarin die stadsraad die sinkgat-probleem na die provinsiale departement van vervoer verwys het en dié dit weer op na die waterraad verwys het.
“Die R21-hoofweg kan een van die mooi dae ineenstort en dan sit ons president, Jacob Zuma, ook met ’n probleem, want hy en sy rooilig-konvooi gebruik die hoofweg gereeld onderweg na die Uniegeboue,” sê Engelbrecht.
Volgens Johan Hechter, die voorsitter van die inwonersvereniging van Monumentpark, word die woonbuurt gereeld deur misdadigers geteiken. “Grobler en sy buurman is veral nou sagte teikens,” sê hy.
Rekord het e-posse verlede Donderdag aan Sanral, die waterraad en die stadsraad gestuur. Die e-posse is met telefoonoproepe opgevolg, maar teen druktyd was daar nog geen reaksie nie.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
