Waterkloof se Bronwynnater op ‘n drafstap
Die ANC-raadslede meen sy is 'n regte DA-temer, maar daar is geen keer aan Bronwynn Engelbrecht as sy deur Waterkloof se strate drafstap nie.
Dit bou en breek rondom ons.
“Al die afgelope vyf maande,” sug Bronwynn Engelbrect (54), DA-raadslid van wyk 46, gemanikuurde pinkie in die lug. “Ons is besig om die huis oor te doen. Nou leef ons máár so tussen die kombuis en die studeerkamer.”
Hier by haar huis in Lynnwood, (nee, sy is nie ryk genoeg – die klem op die y – om in Waterkloof te bly nie), kan ‘n mens steeds vir Bronwynn deur een van haar bonkige ringe trek.
Vals wimpers wat liggies teen haar wangbene fladder, hoë polvye en haar Biggy Best-uitrustings met die engele opgeborduur.
“Gie-gie,” lag sy haar nasale-laggie. “Ek hou van my klere. Al is dit Biggy Besterig.”
Die Bronwynnater, spot die Waterkloof-inwoners, want kyk as Bronwynn eers lostrek oor gemeenskapsake (veral dit wat in háár Waterkloof) aan die gang is, kry mens haar nie stil nie.
Bronwynn is een van Pretoria se sterk vroue van die Demokratiese Alliansie wat op hulle hoë hakke in Helen Zille se voetspore volg. Sterk en soos ‘n traporreltjie wat nie ophou om die ANC ooms-en-tannies op die Tshwane-metroraad grys hare te gee nie.
Soggens skiet sy met haar ougat Jazz, met die blou-blou DA-plakker teen haar passasiersdeur geplak, deur Waterkloof se strate.
Eers stop sy by die kleuterskool waar daar tussen een en twee ongelukke ‘n maand plaasvind, “want sien, daar is nie ‘n spoedhobbel nie. En die mense jaag soos mal goed om die draai”.
Dan trap sy weer die petrol tot in Monumentpark waar ‘n sinkgat so groot soos die Heer se genade langs die R21 ingeval het. Buk skaamteloos oor die gat om die afmetings te bepaal.
Weer in haar motor op pad na ‘n DA-vergadering by Waterkloof Primary. “Die DA is Pretoria se toekoms,” sê sy in goeie Engels vir die ou inwoners wat na haar luister.
Sy sopraan oor die elektriese meters wat die ANC-raad “sommer net installeer het.” Oor die waterpype, asgate en stukkende lamppale.
Dit is ‘n DA-gekerm van die eerste water, meen die ANC-raadslede. Maar Bronwynn steur haar nie aan die kritiek nie. Sy kerm net voort…
Terug by die huis sit sy agter haar groot, bruin lessenaar. Haar skootrekenaar oop. Twee leë koffie koppies langs haar. ‘n Opgefrommelde sneesdoekie. ‘n Botteltjie naellak.
Tjierts-tjiers, lui haar foon. “Ja, Frank. Watter wyk, Frank? Watter gedeelte wil hulle sluit?” Geduldig. “Ja, ek sal die probleem uitsorteer.”
“Sien jy,” sê sy en gryp na haar botteltjie naellak, “ons is die inbelsentrum vir die munisipaliteit.”
‘n Jonger Bronwynn pryk op ‘n foto teen die muur. Sy het graad gevang – nogal ‘n BPharm: Aptekerswese by die voormalige Potchefsroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Haar glimlag spierwit – soos Mmusi Maimane s’n. Haar hare rooi.
“Ek is ‘n natuurlike rooikop,” sê sy terwyl sy haar middelvinger roospienk verf.
“Ek moes in Afrikaans studeer,” tuit sy so Waterkloof-Afrikaans. “Ek is eintlik Engelssprekend en moes vining leer om in Afrikaans te dink en te skryf.”
Toe ontmoet sy ‘n boerseun, haar Hein, op universiteit en die twee het geld nodig gehad.
Toe deur-tot-deur politiek vir die Nasionale Party (NP). “Ons is so tussen R5 en R10 per uur betaal,” onthou sy.
Maar g’n politiek vir haar nie, dankie. Sy wou met mense werk en hulle gesond dokter met pille, brille en wat ookal haar apteek sou oplewer.
Toe begin sy haar eerste apteek in Sunnyside en kry vier seuns so op ‘n streep. Die oudste is nou 24 en die jongste is 17.
“In 1996 het ek my apteek verkoop om meer tyd saam met my gesin te spandeer,” vertel sy terwyl nog ‘n vinger in ‘n roos verander.
Maar stilsit kon sy nie en sy het by ”n mediese firma aangesluit. Bedrog ontbloot en ‘n paar mense se lewe hel gemaak.’ Soos sy steeds doen, want sien, onregverdigheid verdra sy nie.
Sy het haar MBA gedoen en ‘n skoonheidsalon begin. Toe tref die resessie en die vroue begin besnoei op pamperlangsessies.
En toe byt die politieke gogga. “My skoonsuster is ‘n DA-LP en sy het my politiek bewus gemaak.”
Sy het by die gemeenskap betrokke geraak en vier jaar gelede is sy gekroon tot stadsraadslid.
Tjierts-tjierts, lui haar foon wéér. “Alles is politiek,” sê sy aan die gemeenskapslid wat weer kerm oor ‘n gebarste pyp.
Politiek, ja, Bronwynn speel die bal. “Die politieke party wat aan bewind is bepaal die kragrekeninge, wanneer jou asblik leeggemaak word, jou paaie. Alles.”
“Daar is ANC-raadslede met wie ek baie goed oor die weg kom. As die ANC iets reg doen, sal ek hulle prys.”
Maar as hulle droogmaak, is sy in Waterkloof se strate. Haar skoene klik-klak in Rigellaand af. “My Waterkloof. Hoe het die seder nie hier geval nie,” mymer sy op pad na die straatlamp wat weer nie werk nie.
“Die inwoners van Waterkloof het dit erg. Hulle erfbelasting is hoog. Dit is hulle keuse om hier te bly. Nou word hulle ekonomies geboelie.”
Sy skets ‘n donker prentjie vir Pretoria. “Die hele infrastruktuur is besig om in duie te stort.”
Oordryf julle nie?
“Dit is nag vir ons. Nag,” sê sy. “Daar is nie genoeg geld om die infrastuktuur instand te hou nie. Punt.”
“As die DA aan bewind kom, sal dit baie beter gaan,” resiteer sy die gewone propoganda (onthou, die munisipale verkiesings is om die draai.)
Terug huis toe. Weer op die foon. 24-uur per dag. “Ons word nie baie betaal vir ons werk nie. Ons is net daar om die gemeenskap te dien. Pretoria verdien net die beste.”
En vroegoggende tussen twee- en drieuur vroetel Bronwynn tussen haar Clivias – inheemse blomme – wat sy in haar tuin en groenhuis vertroetel. Dit is haar tyd. Bronwynn-tyd.
Tot haar selfoon haar weer die volgende oggend wakker lui. “Bronwynn, maak ‘n plan met die Hadidas wat Waterkloof so vervuil. Hulle raas so, ek kan nie snags slaap nie.”
Lees ook: Water pipe bursting now routine
#AskMmusi takes a different turn
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.


