Konseptuele kunstenaar bied stof tot nadenke by fees
Maak gereed om wanhoop en die noodlot te bepeins met Willem Boshoff se uitstalling in die botaniese tuin.
Een van die land se bekendste visuele kunstenaars is op pad Innibos toe. Willem Boshoff, wat as een van die land se voorste kunstenaars beskou word, sal vanjaar tydens die fees twee werke in die Laeveldse Nasionale Botaniese Tuin uitstal.
Hy is veral vir sy konseptuele installasies en die gebruik van teks by sy werk bekend. Feesgangers kan daarna uitsien om ”Book of Sand” en “Prehistoric Dice II” in die spreekwoordelike vlees te beskou.
In beide werke wend Boshoff aardse materiale aan. Hy maak van verskillende tipes sand gebruik om woorde op die blaaie van ‘n boek voor te stel. Hy het inspirasie geput uit die bepeinsing van Suid-Afrika in ‘n stadium voor die land op kaarte voorgestel is.
“Ek is aangegryp deur die idee dat sonder kaarte en ‘n GPS ‘n mens altyd onseker kan wees waar jy is. Om verdwaal te wees, veral in die woestyn, met geen hoop dat ander na jou soek nie, moet een van die mees vreesaanjaende menslike ervarings wees.”
Die sand simboliseer die onvastheid van die menslike bestaan. Die woorde beskryf die verbeelde ervaring om verdwaal te wees: Nêrens, naamloos, vergete en meedoënloos is van sy gekose terme.
Prehistoric Dice II is weer ‘n eerbetoning aan toeval. Boshoff het dit in 2013 geskep. Dit vorm deel van ‘n reeks van drie werke wat eienskappe deel, maar verskillend is. Elkeen bestaan uit drie graniet-dobbelstene.
“Elkeen is ietwat misvorm deur sy unieke stel historiese en geologiese onstandighede en sy eie onderwerping aan die noodlot. My dobbelstene is simbolies van ons kanse in die chaos van die heelal.
“Die spreekwoordelike dobbelsteen wat blykbaar die uitkoms van onmoontlike evolusionêre wonders bepaal, is ouer as die oerknal en gevorm deur die druk van tyd soos ervaar in ‘n oomblik tot die druk van onmeetbare tyd.”
Boshoff, saam met ses ander visuele kunstenaars vorm deel van Innibos se kunsuitstalling, “Betowering”. Dit skop op 1 Julie af.




