Man skuil in asblik teen diewe
’n Man het oor ’n muur gespring en in ’n asblik weggekruip na hy vermoedelik deur rowers voorgekeer is.
Corlia Kruger
‘n Man het in ‘n asblik noord van Pretoria weggekruip om te voorkom dat hy op straat beroof word.
Dit is die verhaal van die beeldmateriaal van ’n sekuriteitskamera in Theresapark wat onlangs die lig gesien het.
Inwoner Iris Erasmus vertel hoe die man rowers ontwyk het deur in ’n asblik weg te kruip in haar erf in Impalalaan.
“Ek het so geskrik toe ek die man oor die muur sien spring,” het Erasmus Woensdag vertel.
“En toe die motor in ons oprit stilhou, het ek nie besef die man probeer wegkom nie. Ek het gedink hy was saam met hulle en probeer in die huis kom.”
Die beeldmateriaal van die sekuriteitskamera wys duidelik hoe die onbekende man deur die erf hardloop met ‘n ander man agterna.
Hulle word gevolg deur ’n voertuig wat vir ’n oomblik stilhou in die oprit voor Erasmus se woning.
Kyk hier na die video:
“Ek was so beangs dat ek gesukkel het om ’n oproep oor die radio te maak. Sektor Noord (sektor 2) was blitsvinnig op die toneel,” sê Erasmus.
“Die man wat oor die muur gespring het, het in een van die twee asblikke buite weggekruip en net so kort, kort uitgeloer. Hy het naderhand uitgeklim met sy selfoon wat hy weggesteek het en stadig teruggestap.”
Erasmus sê haar tuinwerker het die man voorgekeer om te wag vir die sektorpolisie.
Hy het aan lede van die sektor verduidelik dat hy saam met ’n ander man in Camelstraat geloop het, toe die verdagte voertuig naby hulle stilhou. Volgens hom het ’n man uit die voertuig gespring en hulle probeer beroof.
Die twee voetgangers het gevlug en probeer wegkom van die voertuig wat hulle agterna gesit het.
Erasmus bedank die polisie vir hul vinnige reaksie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
