CrimeLocal newsNews

Plan om self misdaad te bekamp

Die burgerregte-organisasie Afriforum het Woensdagmiddag 'n operasionele plan bekendgestel waarvolgens hulle takke in samewerking met burgerlikes, sekuriteitsmaatskappye en die polisie, patrollie gaan ry om misdaad te bekamp.

‘n Operasionale plan om misdaad by die horings te pak, is Woensdag deur die burgeregte-organisasie AfriForum bekendgestel.

Hoof van gemeenskapveiligheid, Ian Cameron, sê die jongste misdaadsyfers onderstreep die noodsaaklikheid vir aksie.

“Dit is duidelik dat Riah (Phiyega, die nasionale kommissaris van polisie,) nie bevoeg is om die polisie te beheer nie,” sê hy.

“Dit is ook baie duidelik dat sy ‘n grap van die misdaadsituasie maak en niks daadwerkliks doen om ‘n oplossing te vind nie.”

Die jongste misdaadsyfers, wat Dinsdag uitgereik is, toon dat die nasionale moordsyfer met 4.6 % gestyg het en pogings tot moord met 3.2% .

‘n Grafiese aanbieding deur AfriForum toon dat gewapende roof ook onder Phiyega se bewind ‘n opwaartse kurwe het.

Cameron sê Afriforum gaan Vrydag sy eerste nasionale patrollie teen misdaad landwyd van stapel stuur.

Die doel is om die sigbaarheid van patrollies te verhoog, gemeenskappe bymekaar te bring en samewerking te verseker tussen almal wat met veiligheid te make het.

Veiligheidsrolspelers, GPF’s en lede van die publiek is genader om toe te sak op misdaadgeteisterde gebiede met voet-, voertuig-, motorfiets-, en berede patrollies.

Cameron sê sowat 3 000 mense sal landwyd aan die operasie deelneem.

AfriForum-takke en ander instansies sal by die operasie in Pretoria aansluit in Apiesrivier, Hennopsrivier, Pretoria-Wes, Pretoria-Oos en Silverton.

Cameron sê misdaad in die Centurion-omgewing (veral in die gebiede voor die Wierdabrug-polisiekantoor) is redelik onder beheer.

“Daar is nog baie gewapende rooftogte en moorde in Eldoraigne. In die gebiede waar ons takke betrokke is, het misdaad definitief afgeneem.”

Cameron ontken dat die inisiatief daarop gemik is om die wet in eie hande te neem.

“Alle arrestasies gaan binne die raamwerk van die wet gedoen word,” sê hy.

“Ons hoop dat die aksie misdaad sal voorkom en ek glo dat die kanse baie skraler gaan wees dat daar wel ‘n moord of misdaad gepleeg word in die areas waar ons betrokke is.”

AfiForum beplan om teen 2017 twee keer ‘n maand so ‘n operasie te loods.

“Ons wil kyk of die eerste operasie lewensvatbaar is en wat die koste daaraan verbonde gaan wees,” het Cameron gesê.

Kyk hier na die video:

Cameron het ook ‘n veldtog van tien dae van selfstandigheid aangekondig.

Daarmee beoog AfriForum om binne die volgende tien dae self slaggate te herstel, lamppale en straatligte reg te maak, begraafplase en vullistereine skoon te maak en besoedelde riviere te behandel.

“Gemeenskappe was die afgelope twintig jaar in woordestryd met plaaslike owerhede betrokke. Vergaderings, hofsake en protes-aksies is gehou, maar daar was min sukses en is nie volhoubaar nie. Ons moet self aan die pad van vooruitgang begin bou,” het Cameron gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button