Roodeplaat-slagoffer weer onder die mes
Man terug op die operasietafel nadat hy die naweek by Roodeplaatdam geskiet is.
Corlia Kruger
Die man wat die naweek geskiet is in ‘n rooftog by Roodeplaatdam was Donderdag terug op die operasietafel.
Eugene Smit (51) is Sondagoggend ernstig gewond toe ’n gewapende rower hom in die maag geskiet het.
“Hulle gaan nou die wond toe maak,” vertel sy vrou Charmaine. Smit se wond is vanaf Sondag oopgelaat weens oormatige swelling.
“As hulle te vroeg toegemaak het, sou die drukking moontlik weer bloeding veroorsaak.
Smit het sy regter-nier verloor weens interne bloeding en sy vrou vertel dat hy moontlik weer ‘n operasie sal moet ondergaan om ’n beenfraktuur in sy spinaalkoord te verwyder.
Sy sê die rooftog was ‘n nagmerrie-ondervinding en haar man is in die slaapkamer van hul vakansieplekkie by Roodeplaatdam geskiet.
Smit se twee seuns en dogter (ouderdomme 18, 21 en 25) uit ’n vorige huwelik is saam met die egpaar en hul driejarige dogtertjie na die dam om heerlik te ontspan langs die water.
Saterdagaand het Smit se drie oudste kinders tot in die vroeë oggendure gehengel.
Smit was saam met sy vrou en driejarige in die slaapkamer van hul vakansieplek toe skote en gille hulle wakker ruk.
Hy het opgespring en die deur van hul kamer oopgeruk.
“Sy kinders was buite – hy moes hulle help!” vertel Charmaine terwyl die gebeure weer in haar gedagtes af speel.
“Hy het skaars sy voet by die deur uitgesit toe hulle hom skiet.”
Drie rowers, twee gewapen, het die huis blitsvinnig geplunder en met skootrekenaars, tablette en selfone weggekom.
Smit se kinders was ongedeerd maar erg getraumatiseer. Die rowers het sonder waarskuwing begin skiet hulle net-net gemis.
Altesaam 11 patroondoppies op die toneel gekry.
“Genadiglik het hulle almal weggehardloop en skuiling gesoek.”
Smit se driejarige, wat alles gesien het, is geskok gelaat na die voorval. Na haar pa weggeneem is van die toneel per helikopter het sy hom nog nie weer gesien nie.
“Sy wil net haar pappa sien, maar ons mag haar nog nie invat nie,” vertel Charmaine.
Lees ook:
UPDATE: Roodeplaat shooting was violent robbery
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
