CrimeLocal newsNewsUpdate

Bejaarde se kakebeen af na aanval

’n Bejaarde egpaar vertel hoe hulle aangeval is deur ’n gewapende man en met ’n klip in die gesig bygedam is.

Corlia Kruger

’n Bejaarde man van die Moot moet nou ’n operasie weens ’n gebreekte kakebeen ondergaan nadat hy en sy vrou wreed aangeval is.

Coen Vermaak en sy vrou Rina (60) is verlede week in East Lynne voorgekeer deur ’n gewapende man wat hulle albei met ’n klip in die gesig bygedam het.

“Ons het maar nog baie pyn. My gesig is seer en my oog het weer begin bloei,” het Rina Maandag aan Rekord gesê.

Sy is die vorige week, Dinsdag, erg beseer toe sy met ’n klip gegooi is wat haar bril in haar gesig gebreek het.

“My man se gesig is steeds baie geswel en hy sal moet wag vir volgende Maandag voor hulle aan hom kan opereer,” sê sy.

Die egpaar het verlede week hul nagmerrie-ondervinding met Rekord gedeel.

“Ons het die oggend geloop om ’n taxi te kry. Ons was nie seker of die stad se busse weer loop nie en ons moes by die ontvanger se kantoor uitkom,” het Coen vertel.

Hy praat nog moeisaam met sy gebreekte kakebeen en die swelling in sy gesig.

Die egpaar het vroeg die Dinsdagoggend, omstreeks 04:30, die huis verlaat en het besluit op ’n kortpad deur Lammervangerstraat.

“My vrou kan nie baie ver loop nie. Sy het ’n operasie aan haar heup gekry en moet met twee krukke beweeg,” sê Coen.

Aan die einde van Lammervangerstraat moes hul net ’n grondpaadjie oorsteek om by die minibus-staanplek uit te kom.

“Ek was ’n paar tree voor my vrou toe ’n man verby my loop, skielik voor haar inspring en ’n pistool teen haar gesig druk.”

Coen vertel van sy skok en angs toe hy omdraai en die man die skietding op hom rig met die dreigement: “Ek sal julle doodskiet!”

“Hy het toe die sneller getrek,” onthou Coen met ’n strak gesig. “Maar die skoot het nie afgegaan nie.”

Die gewapende man het weer sy pistool oorgehaal en weer het die vuurwapen geweier.

“Dis toe dat ek een van my vrou se krukke gryp en die man begin slaan,” vertel Coen.

In Coen se desperaatheid het hy die man onderstebo geslaan.

“Voor ons kon wegkom, het hy ’n klip opgetel, opgespring en my daarmee in die gesig gegooi.”

Coen het sy kakebeen hoor kraak en sy tande in sy mond voel breek.

Die aanvaller het die klip opgetel en weer na Coen gemik. Hierdie keer het hy misgegooi en die klip het Rina in die gesig getref.

“Hy het haar (Rina) gegryp aan die arms en haar rond gepluk en haar – met haar beseerde heup en al – op die grond laat val. Hy het haar linkerskouer ook skoon uit sy pooitjie geruk,” vertel Coen verder van die aanval op sy weerlose vrou.

Rina het ’n rugsak gedra met haar dokumente vir die ontvanger se kantoor asook haar selfoon.

Na ’n gestoei waarin die man sonder sukses probeer het om die rugsak in the hande te kry, het hy Rina se horlosie en trouring van haar pols en vinger afgepluk en gevlug.

’n Werktuigkundige het kort daarna op die toneel afgekom en die egpaar te hulp gesnel.

“Hy het die polisie geskakel. Hulle was teen 05:15 op die toneel en het ons huis toe gebring.”

Die paartjie is kort daarna per ambulans na Steve Biko akademiese hospitaal gehaas om behandeling vir hul beserings te ontvang.

“Ons bly by ons dogter en voel baie veiliger hier,” sê Coen. Die trauma na die aanval bly steeds die paartjie by en hulle vertel dat hul snags nog sukkel om te slaap.

Sien video :

Lees ook: 

Bejaarde egpaar wreed aangeval

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button