’n Pretoriase pa van vier is dood nadat hy sowat twee weke gelede deur ’n rower by ’n hengeloord geskiet is.
Eugene Smit (51) het Maandag aan sy wonde beswyk.
Hy is op 4 Oktober in die maag geskiet toe rowers hom en sy gesin by hul vakansieplek by Roodeplaatdam oorval het.
Smit se vrou Charmaine het Dinsdag met hartseer gepraat oor die gesinsman van die noorde van Pretoria wat so ontydig dood is.
“Hy was lief vir sy kinders, sy gesin en familie,” het sy kortliks gesê oor die man wat altyd tyd gemaak het om saam met sy familie te wees.
Een van Smit se passies was hengel en hy het gereeld saam met sy drie oudste kinders langs die viswaters ontspan.
Pa en kinders het die aand voor die skietvoorval nog tot laatnag gehengel langs die Roodeplaatdam.
Drie rowers, twee gewapen, het in die vroeë oggendure die gesin verras by die vakansieplek.
Hulle het eers met vuurwapens losgebrand op Smit se drie kinders buite naby die dam voordat hulle Smit gewond het in die kamer waar hy, sy vrou en drie-jarige kind was.
Smit se kinders en vrou was ongedeerd, maar hy is in ’n kritieke toestand per helikopter na ’n hospitaal toe geneem.
Die skietwond het Smit ’n nier gekos. Verdere komplikasies was inwendige bloeding en ’n beenfraktuur in sy ruggraat.
’n Groep ondersteuners, familie en vriende het die gesin bygestaan in gebed.
Sowat 11 dae na die skietery, het Charmaine laat weet dat Smit weer stabiel maar nog nie buite gevaar is nie.
Daar was hoop dat Smit sou herstel, maar vier dae later is hy dood.
Familielid Karien Jordaan sê: “’n Mens weet sulke goed gebeur met mense… maar dit is net so hartseer dat dit met hóm moes.”
Smit laat sy vrou en vier kinders agter.
Lees meer:
UPDATE: Roodeplaat shooting was violent robbery
Roodeplaat-slagoffer weer onder die mes
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos naeditorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
