CrimeLocal newsNews

Besigheidsvrou steel glo duisende

Middeljarige vrou op kamera betrap terwyl sy glo geld uit ’n voertuig steel.

Corlia Kruger

’n Vrou is deur’ ‘n sekuriteitskamera betrap toe sy ’n kartondoos vol geldnote koeltjies uit ’n motor in die noorde van Pretoria steel.

Die note was in die voertuig van een van haar kliënte.

Die 51-jarige is aangekla van diefstal nadat die klaer vertel het van sowat R200 000 waarmee dié vrou amper weggekom het.

“Ek was ’n kliënt van die vrou en haar man wat sonkrag-produkte verkoop,” vertel die klaer, wat verkies om anoniem te bly.

Die ouer paartjie het sake gedoen in die noorde van Pretoria waar die kliënt hul leer ken het.

Die kliënt sê op Donderdagaand 3 September het sy en ’n vriendin die vrou en haar 57-jarige man by ’n dobbelplek in die noorde raakgeloop.

Die groepie van vier is saam by die casino in om hul geluk by die slotmasjiene te beproef.

Geluk was aan die klaer se kant en sy het die gelukkige boerpot van R200 000 losgeslaan.

Sy het haar prys in kontant in ’n kartondoos in haar voertuig buite die dobbelhuis versteek.

“Die enigste mense wat van die geld geweet het, was my vriendin en dié vrou en haar man.”

Toe sy later die aand teruggekeer na haar motor, het sy ontdek dat die geld weg is. Daar was geen aanduiding dat iemand by die voertuig ingebreek het nie.

Danksy beeldmaterial van sekuriteitskameras rondom die gebou kon die klaer antwoorde kry oor hoe haar geld verdwyn het.

Die beeldmaterial toon hoe die sakevrou omstreeks 21:43 buite die gebou in die parkeerterrein haar kliënt se motor nader, die deur oopmaak, die geld vinnig verwyder en in haar eie voertuig laai.

“Sy het skelmpies my kar se sleutel gevat sonder dat ek dit agtergekom het,” vertel die klaer.

Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die dief eers in die parkeergebied rondstaan en dan met ’n veiligheidswag praat.

Sy het hom duidelik gevra om oorkant die pad te gaan kyk of daar ’n ander parkeerplek vir haar is.

Die vrou het so seker gemaak dat daar geen ooggetuies die diefstal kon waarneem nie.

“Sy het teruggekom na die tafel waar ons vier gesit het, my selfoon en ander goed ‘per ongeluk’ van die tafel afgestamp,” vertel die klaer.

Skynbaar het die dief voorgegee dat die motorsleutel ook op die vloer onder die tafel beland het en dit aan die klaer oorhandig.

Beeldmaterial toon hoe dié vrou minute later weer uitstap, gevolg deur haar man.

“Hy het beslis geweet van die geld wat sy gesteel het. Hy het self met hul kar gery om in die parkeerarea oorkant die pad te stop.”

Na die gebeure aan die lig gekom het, het die klaer ook besef dat sy heel moontlik al ’n vorige keer besteel is deur dieselfde vrou en haar man.

“Ek het van hul sonkrag-produkte bestel en hulle was so gaaf om te sê dat hulle dit by my huis in Krugersdorp sal kom aflaai,” vertel sy.

“Ek het die dag kontant van ’n paar duisend rand uit die kluis gehaal om die mense te betaal.”

Die kliënt vertel hoe sy die egpaar binnegenooi het.

“Die vrou het haarself verskoon om die kleedkamer te gebruik terwyl ek en haar man buite gestaan het in die tuin.”

Toe sy wou betaal, het sy ontdek dat haar geld uit die huis verdwyn het.

“Ek het toe nog niks vermoed nie. Ek het in myself getwyfel en gedink dat ek miskien die geld op ’n ander plek gesit het,” sê sy.

“Die paartjie lyk na sulke eerlike, betroubare mense. Mense wat elke Sondag in die kerk is. As dit nie vir die beeldmateriaal was wat gewys het hoe die vrou die geld uit my kar uit vat nie, sou ek hulle nooit verdink het nie.”

Die polisie van Sinoville het die sakevrou dae daarna by ’n dobbelplek in Emalahleni aangekeer.

“Na sy gevang is, het nog vier van hul kliënte na vore gekom om te sê dat hul moontlik ook slagoffers van die besigheidspaar is.”

Polisie ondersoek die moontlikheid dat haar man ’n medepligtige is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button