CrimeLocal newsNews

Onderhoof veg teen inbrekers – veg nou om lewe

Johan du Toit, onderhoof van Hoërskool Akasia, is nog nie buite gevaar nie.

Die Hoërskool Akasia-onderhoof wat Saterdagoggend nege keer deur inbrekers geskiet is, word steeds by Eugene Marais hospitaal in die noorde onder verdowing gehou.

Retha (55), sy vrou en ook onderwyser by Hoërskool Akasia, het Dinsdag aan Rekord gesê dit blyk asof sy toestand verbeter het.

“Ek kan nie met sekerheid sê dat dit wel beter gaan nie. Hy is nog onder verdowing so hy kan nie met ons praat nie. Sy infeksie-vlakke is baie hoog waaroor ons ook bekommerd is.”

Retha het Sondagoggend aan Rekord beskryf hoe haar man aangeval en deur inbrekers geskiet is, nadat die diewe toegang tot hul huis in ’n veiligheidskompleks verkry het.

“Bly weg! Hulle is baie!” het hy geskree toe die skote klap.

Johan du Toit (58) het probeer terugveg om sy vrou en seun te beskerm toe hy deur inbrekers in sy huis geskiet is.

“Ek het die oggend vroeg wakker geword toe ek ’n hond hoor blaf. Ek het iets in die huis gehoor, maar gedink dis miskien ons seun…” sê Retha.

Sy sê Johan het opgestaan en van hul slaapkamer op die boonste verdieping van hul huis na die leefarea op die grondvloer gegaan om ondersoek in te stel.

Hy het toe ’n onbekende aantal inbrekers in hul huis betrap.

“Hy was seker nog nie eers onder op die trappe nie, toe hoor ek die skote klap,” sê Retha.

“Ek vermoed hulle (Johan en die inbrekers) het in ’n geveg betrokke geraak. Daar was een skoot na die ander. Dit was oorlog in ons huis. Net sodra ek dink dis verby – dan klap die skote weer,” sê Retha.

Retha sê sy en haar seun was tydens die skietery op die boonste vloer.

“Johan het vir ons geskree: ‘Moenie afkom nie! Bly weg! Hulle is baie’.”

Retha sê sy het na die balkon buite hul slaapkamer gegaan en om hulp geroep.

“My seun het ’n wasgoedmandjie vol wasgoed gegryp en afgehardloop om my man te probeer help.”

Retha sê sy kon in die donker uitmaak hoe ’n verdagte bo-oor haar man, wat op die grond gelê het, staan en skiet.

“My seun het hom (inbreker) toe met die mandjie vol wasgoed gegooi. Hy moes seker gedink het iemand takel hom van agter af, want die man het alles net so gelos en saam met die res uit die huis gevlug.”

Sy sê ’n TV was die enigste item in die huis wat vermis is nadat die inbrekers gevlug het.

“Met die hulp van ons buurman het ons Johan in die bakkie gekry en hospitaal toe gehaas.”

Retha sê polisie was vinnig op die toneel kort na die aanval.

“Iemand het die polisie eers die verkeerde address gegee, maar hulle het gesoek totdat hulle ons kon kry,” sê sy.

“Ek wil net baie dankie sê vir ons polisie en vir die berading wat hulle aanbied. Die personeel by Eugene Marias hospitaal is ook fantasties.”

Retha sê Johan se milt asook deel van sy dikderm en dunderm is tydens ’n operasie verwyder.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button