‘Waarskuwingskoot’ herleef
'n Kettingwinkelbestuurder sê polisie is ontbied om 'n kougom-dief te kom haal voor die skote geklap het.
’n Vrou herstel nog van ’n skietwond nadat sy verlede week in Pretoria-Noord deur ’n polisiekoeël getref is.
Lisa Lottering (24) en haar man Johan (30) het verlede week vertel van ’n skietery by ’n kettingwinkel in Emily Hobhousestraat.
Die egpaar sê hulle was Dinsdagaand by die winkel toe ’n polisiebeampte op die hakke van ’n vermeende dief op die toneel begin skiet het.
“Ek het die eerste skoot gehoor toe ek omdraai om ’n koeldrankbottel in ’n inkopiesak te sit,” het Lisa verduidelik.
Die tweede skoot is deur haar arm.
Die paartjie het vroeër vertel hulle het nog twee skote gehoor en gesien hoe ’n polisieman ’n man agternasit.
“Die polisieman het aanvanklik eers ontken dat dit hy was wat geskiet het,” het Johan vertel.
“Hy het later met die storie gekom dat hy agter die man (verdagte) aan was omdat die kêrel vroue in die omgewing gemolesteer het.”
Volgens die paartjie het winkel-personeel gesê die die verdagte was net aan kougom-diefstal skuldig.
Die winkelbestuurder wat nie self namens die nationale kettingwinkel wou praat nie, het aan Rekord bevestig dat net kougom gesteel is.
“Die polisie is ontbied om die man te kom haal nadat hy kougom gesteel het,” sê die bestuurder.
Hy sê die waarde van die pak kougom was R150.
“Sover ek weet het die polisiebeampte drie waarskuwingskote gevuur waarvan een die vrou in die arm getref het.”
Die Lottering-egpaar betwyfel hierdie weergawe.
“Vir waarskuwingskote moes hy dan vir die grond mik en nie so hoog skiet dat dit Lisa in die arm tref nie,” sê Johan.
Die paartjie vertel hulle het ook nie gesien dat die vlugteling ’n wapen by hom gehad het nie.
“As die man net kougom gesteel het, kan dit mos nie genoeg rede wees om net te skiet nie,” sê Lisa.
Sy sê die wond aan haar linkerarm genees moeilik.
“My arm het ’n paar dae gelede opgeswel en weer begin bloei. Ek gebruik steeds pynmedikasie en kan nog nie my arm heeltemal gebruik nie.”
Die egpaar het vroeër vertel dat hulle ’n klag by die Pretoria-Noord-polisiekantoor probeer indien het, maar sonder sukses.
Polisiewoordvoerder Luitenant Rebecca Phatlane het Maandag gesê sy sal ondersoek instel na ’n Rekord-navraag, en binnekort terugvoer gee.
Sien video:
Lees ook:
Polisiekoeël tref vrou toe kougom-dief weghardloop

