Wit Kasteel se kasteel leeggesteel
Die Afrikaanse rock-groep se woonstel is vroeër vandeesweek leeggedra.

Die Afrikaanse rock-groep Wit Kasteel se tuiste in Centurion is Maandag rot en kaal gesteel.
Die groep se Clemond Dartnall het vertel dat toerusting ter waarde van sowat R150 000 weggedra is.
“Die hele groep bly saam in die woonstel. Ons almal was by die werk en Reinard was toevallig die vroegste by die huis. Hy het gesien dat die hekkie oopgestaan het.”
Volgens Dartnall het van hulle besittings buite in die tuin gestaan en die agterdeur was toe.
“Die polisie vermoed hulle (die rowers) het deur die venster geklim om toegang tot die woonstel te kry.”
Hy sê van die gesteelde items sluit in iPads, skootrekenaars, televisies, kitare, kabels, mikrofone en selfs kombuistoerusting soos ’n mikrogolf.
“Hulle het regtig ons hele plek leeggedra.”
Kyk hier na die video:
Dartnall sê die inbraak is ’n groot terugslag vir dié groep.
“Ons tree volgende week by Innibos op. Dit is seker ons grootste vertoning vir die jaar. Nou moet ons skarrel om kitare en toerusting te leen.”
Hy sê verskeie musikante het al ingespring en aangebied dat die groep hul toerusting kan gebruik vir die groot vertoning.
“Ons waardeer die hulp baie, maar enige musikant sal weet dat dit moeilik is om net enige kitaar op te tel en te speel. Ons moet ons hele klank terugkry.”
Dartnall vertel dat die groep al sedert 2012 probeer om hul voet in die musiekbedryf se deur te kry.
“Om ’n Afrikaanse rock-groep in Suid-Afrika te wees is bitter moeilik. Ons maak ons toerusting al sedert 2012 bymekaar en nou is dit alles weg.”
Hy sê die groep beplan om ’n vertoning te hou om geld in te samel.
Diegene wat belangstel om die geldinsameling by te woon, kan die groep op Facebook volg onder Wit Kasteel.
’n Klag van diefstal en huisinbraak is by die Lyttelton-polisie gelê.
Lees ook:
Gesteelde Beeskraal bus glo in roof
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
