Nataniël ‘piekfyn’ ná roof
Die kunstenaar is oor die naweek beroof van duisende rande.
Die kunstenaar Nataniël sê hy is “piekfyn” nadat hy die afgelope naweek beroof is in Durbanville.
Hy sê hy het sy eerste vertoning in 29 jaar misgeloop as gevolg van dié roof, wat plaasgevind het by die plek waar hy tuis gegaan het in Durbanville.
Hy vertel dat hy onlangs bronchitis onderlede gehad het en hy nog besig was om daarvan te herstel.
“Die afgelope week het ek vier suksesvolle vertonings gehad, maar my keel was seer en teen Saterdagoggend kon ek skaars praat.”
Hy was aangeraai om die res van die dag te rus sodat hy ten volle kon herstel.
“Ek het aan die slaap geraak en byna onmiddellik wakker geword van stemme iewers in die plek waar ek tuisgegaan het.”
Hy wou nie die naam van die plek bekend maak nie omdat dit met die polisie se ondersoek kan inmeng.
“Ek het eers gedink dis die skoonmakers wat nuwe handdoeke bring, maar die stemme het meer geword. Ek het besef iets is verkeerd en wou opstaan toe iemand die kamerdeur oopruk en my sien lê.”
Nataniël het gemaak of hy slaap uit vrees dat die indringers vuurwapens sou hê.
“Die deur is onmiddellik toegemaak en die indringers het op mekaar begin skree dat hulle moet padgee.”
Iemand het weer die deur oopgeruk en Nataniël sê dit het aanvanklik gelyk of hulle net sy sak en selfoon gegryp.
Hy het die indringer tevergeefs agternagesit.
“Toe ek buite kom, was almal reeds op ’n wit bakkie en het weggejaag. Terug binne het ek besef hulle het ook meer as R40 000 in kontant gesteel, my ID, paspoort, beursies, bestuurslisensie, twee leersakke, view ontwerpersbaadjies en my teatersak met my mikrofoon, skoene, grimering, ensovoorts, heelwat meer as R100 000 se skade.”
Volgens Nataniël het die polisie vinnig op die toneel opgedaag.
“Ek was baie beïndruk met hulle flink diens en vriendelikheid, baie dankie.”
Hy vertel dat hy ná die voorval begin verswak het.
“Ek het egter al hoe sieker begin voel en besef dat dit die medikasie was en dat ek moes slaap. Ek moes ook uit my blyplek trek omdat die deur oopgebreek was en omdat die indringers my herken het.”
Twee ure voor sy vertoning het hy só verswak dat hy hospitaal toe geneem moes word.
“Ek is binne-aars alles toegedien wat nodig is en teen die tyd dat ek ontslaan is, was dit lankal verby die tyd van die vertoning.”
Nataniël sê hy is nou terug in Pretoria.
“Ek is nou terug in Pretoria en piekfyn. En dis my storie.”
Lees ook:
Rowers skiet vrou in kop na gewapende roof
Drie aangekeer vir gewapende roof
Man van Centurion staan tereg op ‘n klag van roof
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
