Akasia-onderhoof steeds kritiek, maar stabiel
“Ek weet hy sal lewe. Dit gaan elke dag ’n bietjie beter.”
Hoërskool Akasia-onderhoof Johan du Toit word na drie weke steeds onder verdowing gehou na hy nege keer deur inbrekers in sy huis geskiet is.
Familie en vriende bid vir Johan (58), wat steeds veg om sy lewe nadat hy weke gelede met rowers geveg het om sy gesin te beskerm.
“Die dokters sê hy is steeds kritiek, maar stabiel,” sê sy vrou, Retha (55).
Retha, ook ’n onderwyseres by Hoërskool Akasia, sê hoewel Johan steeds onder verdowing gehou word, het sy toestand “effens” verbeter.
“Ek weet hy gaan lewe – ons bly positief. Sy niere lyk goed sowel as sy bloeddruk,” sê sy.
“Sy infeksie-telling is wel steeds hoog en hy is op 90% suurstof gesit nadat hy ’n longinfeksie ontwikkel het.”

Retha het vroeër aan Rekord vertel hoe Johan nege keer geskiet is deur ’n onbekende aantal inbrekers wat op 11 Junie by hul huis in Akasia ingebreek het.
“Ek het rondom 04:00 die oggend wakker geword toe ek ’n hond buite die huis hoor blaf,” vertel Retha aan Rekord.
Retha vertel hoe Johan ondersoek ingestel het nadat sy ’n geluid in die huis gehoor het.
“Hy was seker nog nie eers onder op die trappe nie, toe hoor ek die skote klap,” het Retha verduidelik.
Sy was op die boonste verdieping van hul huis toe die inbrekers Johan op die grondvloer aangeval het.
“Ek vermoed hulle (Johan en die inbrekers) het in ’n geveg betrokke geraak. Daar was een skoot na die ander. Dit was oorlog in ons huis.”
Retha vertel: “Dit het skielik stil geword. Ek het gedink dis verby – maar toe klap die skote weer.”
Retha onthou nog hoe Johan vir haar en hul seun, wat saam met hulle in die huis was, geskree het: “Moet nie af kom nie! Bly weg! Hulle is baie!”
Hy het bly skree vir sy vrou en seun om weg te bly, toe die skote deur sy lyf dring.

“Ek kon net ’n figuur uitmaak wat bo Johan, wat op die grond gelê het, gestaan en geskiet het,” sê Retha.
Johan se seun het eindelik met ’n wasgoedmandjie afgestorm om die booswigte te probeer verjaag.
“My seun het hom (die inbreker naaste aan Johan) met die mandjie vol wasgoed gegooi. Hy moes seker gedink het iemand tackle hom van agter af, want die man het alles net so gelos en saam met die res uit die huis gevlug.”
Retha sê slegs ’n TV word vermis nadat die inbrekers gevlug het.
Johan is in ’n kritieke toestand na Eugene Marias hospitaal gehaas.
Retha het vroeër vertel dat die nege skote deur Johan se lyf wonderbaarlik al sy lewensbelangrikke organe gemis het.
Agt van die nege skote is deur sy lyf en een koeël is tydens ’n operasie verwyder.
“Ons is so dankbaar vir die personeel en dokters by die hospitaal wat so goed vir hom sorg,” sê Retha.
“Ek is dankbaar vir al die ondersteuning en welwense van vriende en mense wat ons nie eens ken nie. Dankie vir al jul gebede.”
Retha sê sy het nog geen terugvoer van polisie gekry in verband met die verdagtes wat by hul huis ingebreek het nie.
“Ons kan net hoop dat die polisie hierdie gevaarlike mense sal vaskeer.”
Die polisie was nie onmiddellik bereikbaar vir kommentaar.
Lees ook:
OPVOLG: Akasia-onderhoof steeds kritiek na skietery
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Rekord Oos
Rekord Noord
Rekord Centurion
Rekord Moot
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
