OPVOLG: Familie-vriend praat oor skietery op kleinhoewe
“Riekie het nog gelewe voordat die polisie en die ambulans ’n rukkie later by die huis opgedaag het.”

’n Vriend van die Steenberg-gesin deel met Rekord hoe die egpaar Woensdagoggend op ’n kleinhoewe in Kameelfontein, noordoos van Pretoria, deur rowers oorval is.
Louis Prinsloo vertel dat Riekie Steenberg (51) doodgeskiet is nadat haar man Jurie (53) oorval is deur gewapende rowers in hul huis.
“Hulle (verdagtes) het by die boonste verdieping van hul huis ingebreek,” sê Prinsloo.
Jurie en Riekie slaap op die grondvloer van die huis.
“Dit was rondom 04:30 die oggend wat Jurie hulle hondjies na buite geneem het, toe die rowers hom in die huis oorval het.”
Prinsloo vertel: “Nadat hulle Jurie gegryp het, het Jurie vir Riekie geskree om die rewolwer uit die laaikas te kry.”
Prinsloo sê dat Riekie nog nie die rewolwer in haar hande gehad het toe een van die rowers op haar afkom en die noodlottige skoot gevuur het nie.
“Die skoot het haar onder haar arm en deur haar hart getref,” vertel Prinsloo.
Jurie is ook tydens die aanval gewond voor die rowers gevlug het.
“Hy is in die skouer geskiet,” sê Prinsloo.
“Riekie het nog gelewe voordat die polisie en die ambulans ’n rukie later by die huis opgedaag het.”
Jurie, eienaar van Jurie Pale, Lapas en Grasdakke in Montana, het ses jaar gelede sy eerste vrou, Suna, in ’n soortgelyke voorval verloor.
Suna is in dieselfde huis ook deur rowers geskiet. Sy is in die kop getref en is na ’n maandelange koma dood.
Prinsloo sê dat hy Jurrie ken vanaf skooldae en is platgeslaan oor sy vriend se verlies.
Gebede en boodskappe van medelye het op sosiale media ingestroom aan die Steenberg-familie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
