Local newsNews

Konsertina bou is sy passie

Unieke stokperdjie lei tot ‘n voltydse beroep.

Om eiehandig konsertinas te bou, was jare lank net ’n stokperdie vir Koot Brits van Weavind Park.

In 2005 het dit ’n heeltydse beroep geword en hy bou self onderdele vir die instrumente.

Brits sê daar is min dinge vir hom met soveel genoegdoening en emosie vervul soos om ’n nuut-voltooide konsertina bietjie “in te speel”.

“Om daardie betowerende klanke keer-op-keer te hoor, die pragtige houtwerk te aanskou en die leer te ruik, hou deurentyd vir my besondere bekoring in.”

Hy sê sy persoonlike belangstelling in tradisionele boeremusiek strek oor vele jare.

“As stokperdjie bespeel ek self die konsertina en in my hoedanigheid as lid van die Tradisionele Boeremusiek Klub van Suid-Afrika (TBK), bly ek deurentyd in voeling met die ontwikkeling en gewildheid van boeremusiek.”

Hy bou hoofsaaklik die gewilde 33/4ry-model, wat oorspronklik uit Engeland kom. Dit staan ook bekend as ’n “Engelse konsertina”.

Hoewel konsertinas reeds so vroeg as die 1850’s in Suid-Afrika bespeel is, is dié instrument nie voorheen in Suid-Afrika vervaardig nie.

Die bou van die verkillende modelle is grotendeels beperk tot Engeland en, in ’n mindere mate, ook Duitsland.

Sedert die sewentigerjare het baie van die land se konsertinaspelers hul tot Hannes Viljoen van Kemptonpark gewend vir noodsaaklike herstelwerk en restourasie.

Brits sê: “Juis daar in Oom Hannes se werkswinkel het ek bietjie waarneming gedoen om mettertyd my eie produk die lig te laat sien.”

Hy het geleidelik die tegnieke, wat hy by Viljoen geleer het, tuis beproef en verfyn om ’n konsertina bou.

“Die vervaardiging en aanmekaarsit van alle onderdele word baie noukeurig, spesifiek volgens ’n bepaalde styl en standaard, gedoen,” sê hy.

Brits verduidelik dat dit tussen drie tot vier maande duur om ’n konsertina te bou.

“Ek het tot vandag 87 nuwe konsertinas vervaardig.”

Brits sien uit daarna om jong mense te ontmoet wat ook konsertinas wil bou.

“Ek sou sulke entoesiaste wou bystaan om ook kennis en ervaring met hul te deel,” sê hy.

“Jong konsertinaspelers, waarvan baie nog op skool is, is ’n algemene verskynsel by saamtrekke van die Tradisionele Boeremusiek Klub van Suid-Afrika as die Boeremusiekgilde.”

Hy sê hul belangstelling is gewis ’n aanwins vir die handhawing van tradisionele boeremusiek.

“Die konsertina is, net soos tradisionele boeremusiek, deel van die jonger generasie se kulturele erfenis.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button