CrimeLocal newsNews

Inbreker kry toegang tot huis deur dak

Die bejaarde het niks vermoed todat sy hom in haar slaapkamer gevind het nie.

’n Inbreker het ’n bejaarde vrou die naweek oorval nadat hy deur haar huis se dak in Queenswood in die Moot geklim het.

Kilnerpark Sekuriteit woordvoerder Ancelize van der Kooi sê die indringer het Sondag omstreeks 22:00 toegang tot die vrou se huis in Hammanstraat verkry.

Die vrou is glo diep in haar sewentigs en woon alleen in die huis.

“Sy was op pad bed toe en het in die gang af geloop om ’n ander kamer se lig af te skakel.”

Van der Kooi sê die vrou het niks gehoor nie en nie ’n inbreker verwag nie.

Toe die vrou haar kamerdeur oopmaak, het sy ’n man in haar kamer sien staan.

“Hy het haar sonder verwyl stormgeloop,” sê Van der Kooi.

In ‘n worsteling het hy tevergeefs probeer om haar vas te bind.

Van der Kooi sê die man het haar selfoon en ’n paar juwele gevat, die agterdeur oopgesluit en voet in die wind geslaan.

“Kilnerpark Sekuriteit het ’n oproep van ’n buurman gekry waarna wagte uitgeroep is om te kyk of alles onder beheer is.”

Volgens Van der Kooi is die inbreker nog nie vasgetrek nie.

Sy sê dit gebeur selde dat inbrekers deur huise se dakke klim om toegang te verkry.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button