Kameelfontein-moordenaars nog soek
Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met Riekie Steenberg se moord.
’n Roudiens word Woensdag gehou vir ‘n vrou wat verlede week op ’n kleinhoewe in Kameelfontein doodgeskiet is.
Riekie Steenberg (51) en haar man Jurie (53) is in hul huis oorval deur gewapende rowers.
’n Vriend van die familie, Louis Prinsloo, het vroeër aan Rekord vertel hoe rowers toegang verkry tot die huis deur by die boonste verdieping in te breek.
“Hulle het Jurie oorval in die huis (op die onderste vloer) om 04:30 toe hy die honde na buite wou neem.”
Riekie is ernstig gewond toe sy ’n vuurwapen wou kry om haarself en Jurie te verdedig.
Polisiewoordvoerder sersant Sam Shibambo sê niemand is tot dusver in verband met die moord in hegtenis geneem nie.
“Volgens inligting wat ons ontvang het was daar drie of meer verdagtes betrokke. ’n Polisie-ondersoek duur voort,” sê Shibambo.
Jurie, eienaar van Jurie Pale, Lapas en Grasdakke, het ses jaar gelede sy eerste vrou, Suna, in ’n soortgelyke voorval verloor.
Suna is in dieselfde huis deur rowers in die kop geskiet en is ses maande later in ’n koma oorlede.
Ingeligtes sê niemand is ooit in verband met die eerste moord aangekeer nie.
Die roudiens vir Riekie word Woensdag om 11:00 in die NG gemeente Derdepoort (69 Swaanstraat, East Lynn) gehou.
Lees ook:
Vrou dood en man stabiel na skietery op kleinhoewe
NUUSFLITS: Vrou doodgeskiet in kleinhoewe-aanval
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
