Man praat na tweede tragedie
“Ek weet nie hoekom sy dood moes gaan terwyl ek lewe nie.”
Dit is in dieselfde huis – met koeëlmerke teen die mure nog sigbaar – waar ’n tweede tragedie Jurie Steenberg (53) getref het.
Steenberg se vrou Riekie (50) is Woensdagoggend uit die NG-kerk Derdepoort begrawe nadat sy verlede week op hul kleinhoewe in Kameelfontein doodgeskiet is.
Suna, Jurie eerste vrou, is ses jaar gelede in dieselfde huis ernstig gewond.
“Die huis is in die mark, maar ek kry dit nie verkoop nie,” sug Jurie.
Hy kners op sy tande wanneer hy aan sy skouer vat waar ’n koeël hom tydens die aanval getref het. Steenberg praat weer oor die aanval ’n week gelede.
“Ek het die oggend vroeg opgestaan. Ek staan altyd vroeg op, maar los my vroutjie dat sy slaap,” vertel hy.
“Ek was net op pad om die deur vir my hondjies te gaan oopmaak om uit te gaan, toe hulle (die aanvallers) my by die deur van ons slaapkamer oorweldig.”
Steenberg is met ’n voorwerp oor die kop geslaan voordat hy en drie mans die kamer ingeworstel het. Hy het vir Riekie geskree om hulle te skiet.
“My vuurwapen het langs my op die bedkassie gelê. Ek het geskree, ‘skiet, skiet, skiet’, terwyl ek met die mans gestoei het.”
Riekie het na die vuurwapen gegryp toe die aanvallers haar skiet.
“Hulle het haar net hier in die skouer getref,” verduidlelik Jurie terwyl hy met ’n vinger na sy eie skouer naby die sleutelbeen wys.
“Ek dink dit was omdat sy in ’n bukkende posisie was dat die koeël deur is na haar hart…”
Jurie is ook in sy skouer getref.
“Die koeël is reguit deur en onder by my arm uit.”
Jurie onhou nog die dreigende stemme van sy aanvallers.
“’You are going to die you white b***’,” het hulle gesê en gevra waar die kluis se sleutels is. Hulle het my geskop en die een het die aircon in ons kamer raakgeskop wat toe deur die verster gebars het.”
Jurie herroep die gebeure wat soos ’n rillerrolprent in sy kop afspeel.
Sy vuurwapen en ander besittings soos selfone, ’n tablet-rekenaar, skootrekenaar en kaartmasjien is gebuit voor die aanvallers uiteindelik gevlug het.
“Ek verstaan nie. Nie ons of die honde het hulle gehoor nie. Hulle kon die huis leegdra sonder dat ons daarvan weet. Hoekom was dit nodig om ons aan te val?”
Jurie sê hy vermoed die rowers het eers op die boonste verdieping probeer inkom.
“Hulle het die veiligheidsdeur bo oopgebreek, maar daar is nog ’n sterker staaldeur by die trappe wat hulle gehinder het.”
Jurie het aan Rekord gewys waar die deur van die onderste verdieping oopgebreek is.
Riekie is kort na die aanval op toneel dood.
Jurie het self na Montana-hospitaal gehaas om hulp vir sy wonde te kry. Weens sy skouerwond kon hy Riekie nie optel nie.
“Ek het probeer om net altyd vir haar die beste te gee,” vertel ’n emosionele Steenberg.
“Ek het soveel drome en planne gehad vir ons. Ek en Riekie sou ons eie huis opbou in St. Francisbaai waar ons kon wegkom van hierdie plek.”
“Ek het so lank gevat om Suna se dood te verwerk. Ek weet nie hoe ek dit gaan maak sonder Riekie nie.”
Suna is 2010 ook gedurende ’n rooftog geskiet en wreed aangerand. Na byna ses maande in ’n koma, is sy oorlede.
Lees ook:
Kameelfontein-moordenaars nog soek
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
