Man vas oor klipmoord
‘n Man is in hegtenis geneem in verband met die moord op Jason Jacobs.
’n Man is vasgetrek in verband met die wrede klipmoord onlangs in Eersterust.
Alvin Clement (46) het Maandag op ‘n aanklag van moord in die hof verskyn, sê polisiewoordvoerder sersant Sam Shibambo.
Hy bly in aanhouding en dit was nie dadelik duidelik wanneer hy terug in die hof sal wees nie.
Clement is Vrydag in die vroeë oggendure in Nellmapius gevang.
Jason Jacobs (41) is op 2 Julie sowat 18 keer met ‘n klip geslaan by die 7th Avenue sportkroeg in Eersterust.
Jacobs is dieselfde dag in die Kalafong hospitaal dood.
“Die verdagte se medepligtiges is nog op vrye voet maar die polisie is besig om die net om hulle toe te trek,” sê Shibambo.
’n Vriend van Jacobs, wat anoniem wil bly, sê hy het op binnekring-beeldmateriaal gesien hoe die aanranding gebeur.
“Hulle het hom dadelik begin aanval. Daar is ’n rotstuin buite die klub. Een van die mans het ’n groot klip opgetel en Jason daarmee begin slaan.”
Jacobs is tot 18 keer met die klip geslaan.
“Ons het later Saterdagoggend gehoor wat gebeur het en hom by al die hospitale gaan soek. Ons het hom by Kalafong hospitaal gekry waar hy klaar oorlede was.”
Volgens die vriend het hulle dieselfde oggend ’n klag by die polisie gelê.
Clayton Samuels, eienaar van die sentrum waarin die klub geleë is, sê die nagklub was reeds gesluit ten tye van die aanval.
“Die klub het om en by 02:00 daardie oggend gesluit. Op die beeldmateriaal kan mens die slagoffer om 03:42 in die parkeerarea sien.”
Volgens Samuels kan was daar teen 03:45 ‘n voertuig wat in die parkeergebied ingery het, waarna vier mense Jacobs begin aanval.
“Die aanranding duur omtrent tot 04:00. Kort daarna was daar ander voertuie en ambulanse in die parkeerarea.”
Samuels sê sulke aanvalle is ‘n uitsondering in die sentrum.
“Een geval is natuurlik te veel. Sewe jaar terug is my broer deur ‘n booswig geskiet by dieselfde sentrum.”
Samuels het daarop aangedring dat sekuriteit by dié sentrum op standaard is.
“Sekuriteit by die sentrum is 100%. Ons is kliente van gewapende reaksie en ons het paniekknoppies op die perseel.”
Jacobs se familie bly glo in Geluksdal aan die Oos Rand waar hy Saterdag begrawe is.
Die vriend sê familie en vriende is verheug dat ’n verdagte in die moord vasgetrek is.
“Almal voel beter noudat die man toegesluit is. Die genesing van die seer na Jason se dood kan nou voortgaan noudat ons geruste harte het,” sê hy.
“Die gereg kan nou sy gang gaan.”
Lees ook:
Vierde man verskyn oor oud-polisieman se moord
Saak oor pastoor se moord duur voort
Moord ondersoek na lyk by skool
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n e-pos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
