VIDEO: Misdaadgolf teister onderneming in Pretoria-Noord
Ons het alles op video – hoe hulle die diefwering knip en vensters uitslaan.
’n Sakeman sê sy familie-onderneming in die noorde van Pretoria word gereeld deur misdadigers geteister.
“Daar word byna 15 keer ’n jaar by ons onderneming ingebreek,” vertel Quinten Meyer, bestuurder van Just Nature Organics in Pretoria-Noord.
“Ons sukkel nou al die afgelope 10 jaar dat polisie meer moet doen as om net vir ons ’n saaknommer te gee,” het Meyer Woensdag aan Rekord gesê.
Hy sê die onderneming wat aan sy pa behoort, is in die nywerheidsgebied van Pretoria-Noord geleë.
“Dit is ongelukkig ’n probleem-gebied waar misdadigers gereeld toeslaan.”
Hy sê daar is Vrydag en Sondagaand by die onderneming ingebreek.
“Sondagaand het hulle ons trokke se bande gesteel. Ons vermoed dit is elke keer dieselfde klomp skurke wat ons besteel.”
Meyer sê ’n paar van die inbrake oor die jare is op veiligheidskameras vasgevang.
“Ons het alles op video – hoe hulle die diefwering knip en vensters uitslaan en hoe hulle ons goed uitdra.”
Meyer het die meer onlangse beeldmateriaal met Rekord gedeel:
“Die gesigte van die inbrekers is duidelik sigbaar op die beeldmateriaal, maar tog word niemand gevang nie.”
Meyer sê die diewe het oor die jare duisende rande se skade berokken.
“Hulle het al ons kragopwekkers gesteel, rekenaars en elektroniese ware uit ons kantore gedra, die bande van ons voertuie gesteel en meer,” vertel hy.
“Volgens die beeldmateriaal van ons kameras is daar twee tot vier mense betrokke by die inbrake en soms soveel as agt.”
Meyer sê veiligheid is opgeknap om die inbrake te probeer verminder.
“Ons het nou tot ’n veiligheidswag aangestel om saans te patrolleer.”
Pretoria-Noord-polisie is vir kommentaar genader.
Woordvoerder luitenant Rebecca Phatlane sê sy sal ondersoek instel en binnekort terugvoer gee.
Lees ook:
Die Moot se misdaadprobleem areas
‘n Fietspatrollie teen misdaad
Op voete en wiele teen misdaad
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
