OPVOLG: Kameeldrift-moordenaars nog soek
Hy is doodgeskiet ten aanskoue van sy swanger vrou en drie jong dogtertjies.

Polisie is op soek na twee rowers wat ‘n man voor sy gesin vermoor het op hul kleinhoewe in Leeufontein, Kameeldrift.
Johann Heunis is Saterdagoggend ten aanskoue van sy drie kinders en swanger vrou Mariandra doodgeskiet.
Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê die gesin is omstreeks 01:45 deur die rowers oorweldig.
Hulle het skynbaar aan die slaap geraak in die leefruimte waar hulle televisie gekyk het.
Die rowers het vermoedelik toegang gekry tot die boonste verdieping van die gesin se dubbelverdiepinghuis.
Volgens Van Dyk, het Heunis die rowers gevra om sy gesin uit te los en om te “vat wat hul wil hê in die huis.”
“Een van sy dogtertjies het aan een van die verdagtes gesê om haar spaarblikkie te vat,” vertel Van Dyk.
Een van die indringers het nogtans met ’n 9mm-pistool losgebrand en drie skote geskiet.
Die eerste skoot, wat gevuur is na Heunis se dogters, was mis. Die ander twee koeëls het hul pa getref.
Een van die skote het hom in die arm getref en die ander in die voorkop.
Die rowers het net met selfone gevlug.
“Die polisie stel ondersoek in en volg leidrade op om die betrokke verdagtes te vang,” sê Van Dyk.
Vriende en familie het hul hartseer met Rekord gedeel.
“Ek kan nie nou dink nie. Dis alles net te veel…” het Heunis se ma Stella Maandagoggend gesê.
“My man ry nou hier van Bloemfontein af om Mariandra en die kinders te ondersteun.”
Haar stem breek toe sy vertel: “Die oudste dogtertjie is nou maar net ses…”
Johann is die oudste van vier broers. Twee van sy broers woon saam met sy ouers in Bloemfontein.
“Hy was en is my boetie… ’n goeie man,” het een van die broers Stephan vertel.
“My boetie – rus in vrede. Die mense wat jou geroof het van jou lewe sal hul straf kry,” skryf hy op sosiale media.
Mariandra is swanger met die egpaar se vierde kind – ’n seuntjie.
Lees ook:
Kameeldrift survivor speaks about horrific robbery
Hunt for Kameeldrift robbers launched
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
