Vermeende-rower deel foto’s op gesteelde selfoon
“Die rower het van homself en sy kollega foto’s geneem met die iPhone wat hy by my gesteel het.”
Foto’s van ’n vermeede huisrower, wat met ’n gesteelde selfoon geneem is, is onlangs gevind.
’n Inwoner in die ooste van Pretoria het die die foto’s met Rekord gedeel.
“Die rower het van homself en sy kollega foto’s geneem met die iPhone wat hy by my gesteel het,” vertel die man, wat verkies om anoniem te bly.
Hy en sy gesin is op 6 Augustus in hul huis deur drie rowers oorval.
“Hulle het my en my vrou in ons slaapkamer oorweldig,” vertel hy.
“My seun en vier van sy vriende, wat oorgeslaap het, was ook in die huis. Gelukkig is hulle alleen gelaat en het deur die rooftog geslaap.”
Die inwoner sê hy en sy vrou is met tou in hul slaapkamer vasgemaak.
“Hulle het eers my vrou rondgeruk toe hulle na die sleutels van die kluis gesoek het.”
Die rowers het met selfone en ander elektroniese ware gevlug.
“Ek kon dit nie glo toe ek die foto’s sien van die mans wat betrokke was by die roof nie,” sê die inwoner.
“Foto’s op ’n iPhone of iPad kan deur Photostream of deur iCloud ‘gelink’ word met ander Appel-toestelle,” verduidelik hy.
“Op ’n manier is die foto’s op Photostream met een van my Appel-toestelle gedeel. Hulle moes seker iets met die foon doen egter, want ons kan glad nie die foon ‘trace’ nie.”
Die inwoner sê die foto van een van die vermeende-rowers stem ooreen met ’n identikit van ‘n man wat deur Silverton-polisie gesoek word vir huisroof in Murrayfield.
“Die berig wat ek gelees het oor die man wat in Leeuwfontein doodgeskiet is die naweek, het my ook herinner aan wat met ons gebeur het,” sê die man.
“Daar is sekere goed wat net baie ooreenstem.”
Hy sê hy is ook in die vroeë oggendure op ’n Saterdag beroof en een van die rowers was gewapen met ’n 9mm-pistool.
“Een het Engels gepraat en die ander een het vir ons in Afrikaans gesê: ‘Moenie raas nie’.”
Hy sê die derde indringer het niks gesê nie en vertel dat een van die mans ‘n wit masker met oranje kolle gedra het, “wat soos pampoene lyk”.
’n Klag van huisroof is by die Boschkop-polisiekantoor ingedien.
Polisiewoordvoerder Kaptein Marissa van der Merwe sê: “Die saak word tans deur die polisie ondersoek.”
Lees ook:
Kameeldrift moordenaars nog soek
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


