Die rowers in twee tragiese moorde die afgelope week word steeds deur die polisie gejag.
In beide gevalle het gesinne ’n pa verloor.
In die eerste een is ’n man voor sy gesin op hul kleinhoewe in Leeufontein, Kameeldrift vermoor.
Johann Heunis is Saterdagoggend ten aanskoue van drie kinders en sy swanger vrou Mariandra doodgeskiet.
In die tweede moord is Dirk Snyders in sy huis in Hartbeespoort vermoor.
Sy seun was ook in die huis.
Polisiewoordvoerder adjudantoffisier Johan van Dyk sê die Heunis-gesin is omstreeks 01:45 deur die rowers oorweldig.
Hulle het skynbaar aan die slaap geraak in die leefruimte waar hulle televisie gekyk het.
Die rowers het vermoedelik toegang tot die boonste verdieping van die gesin se dubbelverdiepinghuis gekry.
Van Dyk sê Heunis het die rowers gevra om sy gesin in vrede te laat en om te vat wat hul wil hê.
“Een van sy dogtertjies het ook haar spaarblikkie vir een van die verdagtes aangebied,” vertel Van Dyk.
Een van die indringers het nogtans met ’n 9mm-pistool losgebrand en drie skote geskiet.
Die eerste skoot, in the rigting van Heunis se dogters, was mis.
Die ander twee koeëls het hul pa getref.
Een van die skote het hom in die arm getref en die ander in die voorkop.
Die rowers het net met selfone gevlug.
“Die polisie stel ondersoek in en volg leidrade op om die betrokke verdagtes te vang,” sê Van Dyk.
Vriende en familie het hul hartseer met Rekord gedeel.
“Ek kan nie nou dink nie. Dis alles net te veel…” het Heunis se ma Stella Maandagoggend gesê. “My man ry nou hier van Bloemfontein af om Mariandra en die kinders te ondersteun.”
Haar stem breek toe sy vertel: “Die oudste dogtertjie is nou maar net ses…”
Johann is die oudste van vier broers.
Twee van sy broers woon saam met sy ouers in Bloemfontein.
“Hy was en is my boetie… ’n goeie man,” het een van die broers Stephan vertel.
“My boetie – rus in vrede. Die mense wat jou geroof het van jou lewe sal hul straf kry,” skryf hy op sosiale media.
Mariandra is swanger met die egpaar se vierde kind – ’n seuntjie.
Snyders is skaars ’n uur later vermoor.
Volgens die Hartbeespoort Concerned Citizens (HCC) gemeenskapsforum was Snyders en sy 29-jarige seun by die huis toe rowers op hul toeslaan.
“Sy (Snyders) seun is wakker gemaak in sy bed deur een van die indringers,” lui ’n boodskap van die HCC-groep.
“Hy het ’n mes by hom gehad waarmee hy die seun gedreig het.”
“Minute daarna het die seun ’n gil gehoor gevolg deur ’n geweerskoot.”
Snyders is dood in sy slaapkamer gekry.
Lees ook:
Man se pleidooie kon haar nie red nie
Kameeldrift survivor speaks about horrific robbery
Hunt for Kameeldrift robbers launched
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
