WAARSKUWING: GRAFIESE FOTO’S – Helde in motordiefstal, vergiftiging-drama
“Binne 13 minute na ek my bakkie as gesteel aangemeld het, het hulle dit teruggekry.”

’n Polisieman het ’n hond in sy laaste oomblike vasgehou, ondanks die speeksel en ontlasting wat dodelike gif tot gevolg gehad het.
Elders het twee veiligheidswagte ’n gesteelde voertuig ingehaal wat deur die diewe wat die hond vergiftig het, gesteel is.
Derick Goosen, ’n Moot-inwoner, is vol lof vir die “helde” wat hom die week in nood bygestaan het.
Goosen is Woensdagoggend deur ’n werknemer by sy huis wakker gemaak.
“My Nissan 1400 was gesteel. Die tuinman het my kom wakker maak, minute nadat die diewe met my bakkie verdwyn het,” vertel Goosen.
Lees ook: Motor binne sekondes gesteel
“Ek het Moot-polisie gebel en met adjudant-offisier George McDonald gepraat.”
Goosen sê: “Ek het vir hom net kortliks die beskrywing van my voertuig gegee, en hy het soos blits opgetree en die diefstal oor die radio aangemeld.”
Kilnerpark-sekuriteit (KPS) was vinnig om op die noodoproep te reageer.
“Een van hul reaksievoertuie het die diewe in my bakkie agternagesit. Naby die Jakaranda-kinderhuis, het hulle (diewe) my bakkie gelos en van die veiligheidswagte ontsnap wat op hul spoor was,” vertel Goosen.
“Ek is steeds verstom oor hoe vinnig hulle die bakkie gevind het. Binne 13 minute na ek my bakkie as gesteel aangemeld het, het hulle dit teruggekry.”
Goosen sê terwyl hy gewag het vir nuus oor sy voertuig, het hy met skok ontdek dat sy hond vergiftig is.
“Dit was nog donker en ek kon nie sien nie. Ek het net gevoel hoe my hond teen my kom leun.”
Goosen sê sy drie-jarige boerboel-rifrug-kruising Noah, het vreemd opgetree.
Lees ook: The dangers of dog poisoning
“Toe ek my flitslig kry en op hom skyn, het ek gesien hoe die skuim by sy bek uitkom. Ek het toe geweet hy is vergiftig.”
Goosen sê Moot-polisie het toe by sy huis opgedaag.
“Sersant William Lesolang het my veral met Noah gehelp,” sê hy.
“Hy (Lesolang) het nie eers sy baadjie uitgetrek nie en het my hond, wat bly braak en kwyl het, in sy arms vasgehou.”
Goosen sê: “Ons het charcoal met water in Noah se keel afgeforseer, maar dit was reeds te laat. Die swart korrels in die stukke polonie wat hy opgebring het, het ek herken as ‘Two-Step’-gif.”
Goosen se stem breek as hy oor Noah praat. Hy het die hond ’n paar maande gelede by Wollies-diereprojek in Pretoria-Noord aangeneem.
“Hy was so ’n sterk hond. Daar was genoeg gif in die stukke vleis wat hulle vir hom gegee het, om tien honde dood te maak. Tog het Noah aanhou veg.”
Goosen vertel hartseer dat sy hond uiteindelik die stryd verloor het.
Lees ook: Nog honde vergiftig
“Ek is so dankbaak vir die polisiebeamptes van Moot asook Villieria-polisiekantoor wat my by my huis bygestaan en ondersteun het.
“Hulle het tot aangebied om Noah te help begrawe.”
Goosen sê die KPS-veiligheidswagte wat sy voertuig gevind het, het ook die “ekstra myl gegaan” om hom te help.
“Daar was skade aan my bakkie toe hulle dit teruggekry het, maar tog het hulle gehelp om te herstel waar hulle kon en ek het in my bakkie teruggery huis toe.”
Goosen bedank KPS vir hul vinnige optrede asook Moot en Villieria-polisie wat hom bygestaan het.
“Spesiaal wil ek dankie sê aan McDonald, Lesolang en konstabels Mphahu Herman Mahlwele, Richard Rakolote en Danie Rautenbach. Almal van hulle is helde – en ek sal ewig dankbaar wees vir die onbaatsugtige diens wat hul lewer.”
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
