Na twee weke se wag, kan Moot-inwoners uiteindelik ’n sug van verligting slaak toe hul asblikke leeggemaak is.
Inwoner Margaret Oosthuizen sê ’n asblikvragmotor was Vrydagoggend deur die strate van Jan Niemandpark deur die metropolisie begelei om alle asblikke leeg te maak.
Oosthuizen sê Maandagoggend is die asblikke weer onder polisiebegeleiding leeggemaak.
Sy het net Vrydag vertel hoe hulle al vir meer as twee weke gewag het dat hul asblikke leeggemaak moes word.
“Ons het maar naderhand self R50 betaal om deur ’n private besigheid die vullis leeg te maak,” sê sy.
LEES OOK: Wes-grafte van historiese figure skoongemaak
“Ander inwoners het selfs uit frustrasie hulle asblikke in die strate leeggemaak.”
’n Ander inwoner, Boet Roets, sê hy was ongelukkig oor hoe hulle deur die Tshwane metro behandel is.
“Ons het net absoluut geen terugvoer van die metro afgekry nie. Hulle was ongeskik en het sommer die foon in ons oor doodgedruk,” sê hy.
“Dit (stank) was ’n verskriklike belewenis. Dit het só gestink ons kon skaars ons huis verlaat.”
Roets sê party inwoners het deur vragmotors hulle vullis laat verwyder.
Hy sê dit het slegs R10 gekos.
LEES OOK: Garsfontein maak skoonskip in Sewestoernooi
“Die probleem hiermee is dat hierdie vragmotors reguit na die naby geleë veld ry en die vullis daar gaan strooi,” sê hy.
Hierdie beboste veld was en is steeds ’n bron van kommer vir inwoners.
Rekord het in die verlede al telkemale oor die veld berig.
Die veld het nie net ’n onooglikheid weens onwettige stortings geword nie, maat word ook deur misdadigers as ’n wegkruipplek gebruik.
Inwoner Francis Smit sê die boosdoeners steek hul gesteelde items tussen die bome weg.
“Hulle gebruik die veld om weg te hardloop wanneer hulle van die polisie af probeer wegkom.” sê sy.
“Ek het ook al ’n paar van hulle daar sien slaap.”
Terwyl inwoners moedeloos was oor hul asblikke wat nie leeggemaak word nie, kla party oor ’n hoë mas-lig wat al vir vyf maande buite werking is.
LEES OOK: Villieria-polisie maak weer skoon
“Toe die hoë mas-lig ongeveer twee jaar gelede opgerig is, het die misdaad in die omgewing afgeneem,” sê Smit.
“In die nag is dit pikdonker. Ons kan niks sien nie. Die hoë mas-lig het op al ons eiendomme geskyn. Ons kon sien wat aangaan rondom ons.”
Sy sê sy is moedeloos en hoop vir vinnige hulp van die metro.
Die rede hoekom die vullis vir so lank nie verwyder is nie, was teen druktyd nog nie bekend nie.
Die metro het teen druktyd geen kommentaar gelewer nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
