Vrugtevliegbesmetting steek sy kop uit in Pretoria
Wees bewus van die gevare in jou tuin.

Inwoners in die vreedsame buurt van Gezina in Oos-Moot in Pretoria, het die afgelope week ’n nare besmetting van vrugtevlieë teëgekom.
Charmaine Jacobsz het op die populêre Moot se Mense Facebookblad om hulp gevra toe sy byna 26 vrugtevliegbytplekke op haar Maltese Poedel raakgesien het.
“My man het so rukkie terug vrugtevlieë in ons tuin gesien maar ons het nie veel daarvan gedink nie, maar kort daarna het my Maltese Poedel ongemaklik begin raak, en ek kon sien sy is in pyn. ’n Apteker-vriendin van my het my bygestaan en ons kon al 26 van die wurms uit haar vel druk,” verduidelik sy.
LEES OOK: OPVOLG: Vliegtuigongeluk moontlik nie weens enjinprobleme
Volgens Dr Jaco de Jong van die Wilgers Diere Hospitaal, is dit nie die eerste geval nie.
“Ons sien die afgelope tyd al hoe meer gevalle van honde wat met vrugtevlieë in kontak gekom het. Die vlieë lê hul eiers onder die dier se vel, die larwe broei onder die vel en later verskyn daar ’n groot wit kol. Die knop kan mens duidelik met jou vingers voel en lyk nogal na ’n puisie – as ek dit so kan stel,” verduidelik De Jong.
“Meeste van die tyd druk ek maar tot mens die kop van die wurm kan sien en trek hom uit met ’n tweezer.”
Petro Odendaal het aan Rekord verduidelik dat dit nie net ’n groot probleem onder troeteldiere is nie, maar dat haar 10-jarige dogtertjie Sharmen ook met 16 vrugtevliegbytplekke sit.
“Ek het my dogtertjie se beddegoed gewas en buite opgehang. Nadat sy een aand onder haar skoon beddegoed geslaap het, het sy die volgende oggend vol rooi bytplekke opgestaan. Ek het haar dadelik na die dokter geneem en hy het haar antibiotika en Allergex voorgeskryf,” verduidelik Odendaal.
“Die probleem het egter nie weggegaan nie, dit het eintlik erger geword. Ek het haar teruggevat dokter toe en daar het die dokter besef dat dit vrugtevlieg-larwes onder haar vel was. Hy het hulle stadig begin uitdruk en tot dusver kon ons al vyf uitkry. Ons moet nou elke dag dokter toe gaan totdat almal uit haar vel verwyder is.”
Dokter de Jong beveel egter aan dat indien jy die puisie-agtige merke op jou troeteldier of kind sien, jy dadelik mediese hulp moet nader.
“Vir diere gee ons Advantix, maar mense moet paraat wees en eerder hul troeteldiere se hare kort en skoon hou. Dis egter baie moeilik om die knoppies te identifiseer indien die dier lang hare het. Mense moet dus seker maak om hul wasgoed altyd te stryk of in die tuimeldroër droog te maak.”
LEES OOK: Vrektes ná riool in Struben Dam beland
“Die oortollige reën in Pretoria oor die afgelope paar weke dra definitief by tot die besmetting en mense moet let op nat gedeeltes van die tuin waar hierdie vlieë kan uitbroei.”
In meeste gevalle sal ’n dokter aan beide troeteldier en mense antibiotika voorskryf om van die infeksie in die liggaam ontslae te raak.
Vir meer inligting, skakel gerus vir Dokter Jaco de Jong by die Wilgers Diere Hospitaal op 012-807-5043.
Sien meer foto’s hier:



Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
