Local newsNews

Mampoerfees weer reg vir Pretoria

Hierdie feestelike geleentheid, wat al vir bykans 30 jaar by die museum aangebied word, vind vanjaar op 2 Junie 2018 plaas.

Die jaarlikse nasionale mampoerkampioenskap en Mampoerfees is ’n hoogtepunt op die kalender van die Willem Prinsloo-landboumuseum en die kultuurstokersgilde in Pretoria.

Hierdie feestelike geleentheid, wat al vir bykans 30 jaar by die museum aangebied word, vind vanjaar op 2 Junie plaas.

“Die Skotte het whisky, die Grieke ouzo, die Hollanders het jenewer, Jamaika het rum en ons Suid-Afrikaners is besonder trots op ons eie eksklusiewe mampoer en witblits,” sê woordvoerder, Lettie Engelbrecht.

“Toe die Voortrekkers na Limpopo getrek het, het hulle toentertyd drank gekry by die Pedi’s wat van wilde vrugte in hul omgewing gestook is.”

Sy sê die naam mampoer vir dié besondere drank is toe afgelei van die Pedi-hoofman, Mampuru.

“Mampoer word gestook van gesonde vrugte, terwyl witblits van druiwe gestook word,” vertel sy.

“Tradisioneel is witblits in die Kaap gestook en mampoer verder die binneland in.”

Sy sê die stookproses word in koperstookketels gedoen en geen suiker of chemiese bymiddels mag gedurende die proses by tradisionele mampoer gevoeg word nie.

“Om 750ml mampoer van 50 persent alkohol te stook, word nagenoeg 100kg vrugte benodig,” sê sy.

Engelbrecht sê behalwe vir die besonderse drankie waarvoor mampoer en witblits bekend staan, word dit ook in talle boererate medisinaal gebruik vir enigiets van verkoue en griep, koors, artritis en seer gewrigte, spatare en as tonikum.

 

Die Mampoerfees word aangebied om die besonderse kultuur van mampoer- en witblitsdistillasie aan feesgangers bekend te stel.

“Daar word juis ook op die dag van die fees in die die tradisionele stookketel van die Ditsong: Willem Prinsloo Landboumuseum, peermampoer/witblits gestook,” sê sy.

“Op die dae voor die fees word ’n nasionale kampioenskap gehou vir distilleerders wat aan die Kultuurstokersgilde behoort en van regoor Suid-Afrika afkomstig is.”

Sy sê beoordeling word gedoen op internasionaal erkende beoordelingsreëls, metodes en standaarde.

“Op die dag van die fees word daar dan nasionale mampoer- en witblitskampioene aangewys, asook talle ander toekennings vir ’n wye reeks kategorieë,” sê sy.

“Nie net mampoer en witblits word beoordeel nie, maar ook verouderde drank, likeure, ingelegde produkte en tradisionele medisyne.”

Engelbrecht sê dit neem ongeveer vyf maande om ’n besonderse likeur gereed te kry vir die kampioenskap en verouderde produkte neem drie jaar en meer.

“Al die beoordeelde mampoer, witblits, verouderde drank, likeure en ander produkte, word na afloop van die beoordeling, op die dag van die fees, per sopie en bottel te koop aangebied,” sê sy.

“Die Mampoerfees is ’n plesierige, feestelike geleentheid – moet dit nie misloop nie!”

Die fees was verlede jaar ’n groot sukses. Foto: Verskaf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button