Bejaarde fietsryer (77) al drie weke op die pad
’n Bejaarde man, wat per fiets vanaf Pretoria tot die Paarl ry om bewusmaking te skep vir die Voortrekker-beweging, is al drie weke op die pad en het George in die Wes-Kaap bereik.
’n Bejaarde man, wat per fiets vanaf Pretoria tot die Paarl ry om bewusmaking te skep vir die Voortrekker-beweging, is al drie weke op die pad en het George in die Wes-Kaap bereik.
“Sover gaan dit baie goed op die pad,” het Jakkie van der Colff (77) Maandag aan Rekord vertel.
“Die enigste probleem wat ek ervaar is dat die wind my spoed breek.”
Van der Colff van Waverley het op 17 Augustus dié avontuur aangepak om man-alleen vanaf die Voortrekker Monument in Centurion tot by die Taalmonument in die Paarl per fiets te ry.
Die 2 650km afstand lê hy af ten bate van die Voortrekkers.
Hy beoog om teen 21 September by sy eindbestemming te wees.
Teen Donderdag sal hy die pad aanpak na Riversdal, het hy vertel.
“Vir nou rus ek so ’n bietjie,” sê hy.
ALSO READ: Moot se ‘oom Jakkie’ trap kilometers vir die Voortrekkers
Van der Colff sê hy ervaar baie herinneringe terwyl hy dié rit aanpak.
“Een voorval wat vir my uitgestaan het, was toe ek gery het en ’n vragmotor van voor af vir my gewys het dat ek moet aftrek,” sê hy.
“Dit alles het hy net gedoen om vir my te vra of ek iets nodig het en of hy van sy vrugte wat hy in sy voertuig gehad het, met my kon deel.”
Hy sê dit was maar net nóg ’n bewys dat Suid-Afrika “glad nie so sleg” is nie.
“Almal praat altyd van hoe gevaarlik Suid-Afrika is, maar in my ervaring is dit vir my net ’n plesier om mense langs die pad te ontmoet.”
Van der Colff sê hy voel nog goed.
“Ek sal sommer al die pad weer terug ry, want dan sal die wind mos van agter af kom,” sê hy.
Hy sê hierdie is nie die langste rit wat hy al gedoen het nie. Sy langste afstand was oor die 5 000km.
In 2013 het hy sy eerste fietstoer aangepak.
Nie net trap Van der Colff ten bate van die Voortrekkers nie, maar hy het aan Rekord vertel dat hy ook liggaamlik en geestelik gesond wil wees.
“Sonder oefening kan ’n mens vergeet om een van daardie twee te wees. Jy kan nie ’n gesonde gees en ’n ongesonde liggaam hê nie,” sê hy.
“Ek sê altyd dit maak nie saak hoe oud jy is nie, wat jou geslag is nie en of jy enige liggaamsgebrek het nie – as jy iets wil doen dan kan jy.”
Van der Colff sê hy het al vier vorige fietstoere in die verlede onderneem.
“Toe ek my volgende toer beplan het, het ’n Voortrrekker-offisier my genader,” sê hy.
“Terselfdetyd het ek besef dat die Voortrekkers geld nodig het en ook wyer bekend wil wees.”
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
