‘’n Nuwe begin’ vir Jo Black na sy baard waai
“Verandering is die enigste konstante op die oomblik,” sê die bekende sanger Jo Black nadat hy sy baard afgeskeer het.

Die plaaslike sanger, Jo Black, wat Pretorianers gaande het met sy diep stem en kenmerkende lang baard, het aanhangers gister verras deur ’n foto waar hy sonder sy baard pronk op sosiale media te deel.
Met Suid-Afrikaners nog tuis tydens die inperking, wend talle bekendes hulle tot sosiale media om met aanhangers in kontak te bly en boodskappe van hoop te bring.
“Ek het lank gewik en geweeg oor die foto want ek weet dit word opgevolg met honderde positiewe en negatiewe kommentare. Verandering is die enigste konstante op die oomblik en dis dalk ’n goeie ding. Elke dag is ’n nuwe dag vir ’n nuwe begin. ’n Tweede kans om oor te begin. Ek het besluit om oor te begin, en om dinge beter te doen, met meer passie en integriteit en met intensie. Ons word nie gedefinieer deur die opinies van mense nie,” het die sanger op sy Facebook-blad oor die besluit om sy baard te skeer geskryf.
“As ek ’n leeu se maanhare afskeer, sy tande pluk en sy naels knip, wat is hy dan? ’n Leeu! Al voel en lyk hy nie op die oomblik so nie, verander dit glad nie sy identiteit nie. Om ’n musikant te wees, definieer my nie. My baard, beroep en finansies definieer my nie. Dis ‘n hart wat ons definieer! Goeie tye bou selfvertroue, moeilike tye bou karakter! So, hierdie foto is op tweede kanse, op ‘n nuwe begin,” het Black verder gesê.
Vroeër die maand het hy ’n beroep op mense gedoen om sterk te staan ten midde van die storms wat tans woed.
“Ek glo met my hart en siel dat ons die mag en kapasiteit het om die wêreld te verander. Ons gaan die wêreld verander met hart en met dit bedoel ek, ek dink dis tyd, nou veral, dat ek en jy moet terugkom na ’n plek van integriteit, eerlikheid, lojaliteit, vriendelikheid en barmhartigheid, simpatie, empatie; liefde bo alles,” het hy in ‘n spesiale video op sy Facebook-blad gedeel.
“Die storms en winde gaan waai. Dinge gaan rof raak. Maar hoe jy in die midde van jou eie storm jou hand kan uitsteek om ander mense op te tel sê meer van jou hart as wat jy dink. Ons noem dit karakter. En die lewe gaan jou gooi en hy gaan jou rondruk, hy gaan vir jou so stief en sleg behandel dit gaan vir jou voel of jy sink. Ek weet dit want jy sê al lankal vir jou pelle jy sukkel om kop bo water te hou. Maar as jy dalk net genoeg geloof kan hê, al is dit vir twee sekondes soos ’n Petrus of ’n David, sê dit meer oor jou karakter as wat jy dink,” het Black verder gedeel.
“Die lewe gaan meer oor hoe jy opstaan. Dit gaan nie oor hoe jy gestruikel het nie. Ons moet ophou fokus op dit wat mense van ons dink, veral weereens in ’n tyd soos nou. Ek het agter gekom omtrent 80% van ons besluite en goeters wat ons doen is gebaseer op wat mense van ons gaan dink. Wat gaan mense van ons sê? Hou op worry oor wat die mense gaan sê. Hou op worry of is ek mooi genoeg of is ek maer genoeg… vat die kanse. Niemand onthou hoe jy geval het nie. Hulle wil hoor hoe jy opgestaan het. Opstaan-stories gee hoop,” het hy bygevoeg.
Black het in 2017 sy baard tydens Jacaranda FM se The Big Beard challenge afgeskeer waarna hy deur aanhangers as die George Clooney van Suid-Afrika gedoop is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
