KYK: Mountain View-inwoner maak golwe in Afrikaanse musiek
“My inspirasie en motivering vir my musiek kom suiwer van persoonlike ondervindings."
Die talentvolle Theo Nel (30) van Mountain View in Pretoria het die grendeltydperk as geleentheid gebruik om met sy nuutste musiek en videos kop bo skouers uit te blink.
Die sanger is verlig dat die tyd uiteindelik aangebreek het vir hom om vir die publiek te wys wat op sy hart is, wat of eerder wie hom inspireer, en sy strewe daarna om mense gelukkig te maak met sy sprankelende persoonlikheid en uitkyk op die lewe.
“My inspirasie en motivering vir my musiek kom suiwer van persoonlike ondervindings, en my plan om my doelwitte heelhartig in 2021 te behaal,” verduidelik Nel aan Rekord.

Nel spog met ’n loopbaan van 10 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf. Hy het nog altyd gevoel dat hy ’n optreder moet wees en dat hy deur middel van sy musiek en lirieke, ander wil inspireer en wil wys dat jou drome jou eintlik moet bangmaak.
“As jy drome jou nie bangmaak nie, droom jy nie groot genoeg nie.
“Ek het al die geleentheid gehad om saam met fantastiese mense in die industrie te werk. Ek het al wonderlike lesse geleer, en net weereens besef dat my geloof sterker as altyd is. Ek kan dit sien hoe geseënd ek is,” verduidelik Nel.
Nel vertel van sy moeilike kinderjare sonder sy pa in sy lewe en hoe dit sy musiek beïnvloed het.
“As ’n kind was my pa nie teenwoordig in my lewe nie. Toe ek ouer word, het ek ’n verhouding met hom begin bou en hy was vir vyf jaar baie belangrik vir my. Ongelukkig is hy oorlede en daarom dra ek my nuutste album aan hom op.”
Nel spog met 17 liedjies op sy nuutste album Is Jy Reg?, en die liedjie “As ek aan jou dink” is deur Vincent Gorden spesiaal vir Nel se pa geskryf.
“Ons het gepraat oor my verhouding met my pa en sy laaste woorde aan my. Vincent het basies my gedagtes en gevoelens gevat en hierdie pragtige lied geskryf.”
Gorden is reeds ’n reuse invloed vir Nel en het saam met hom “Boombox” gesing. Die musiekvideo is verlede week vrygestel.

“Vincent is reeds bekend vir sy musiek en treffer “Stap soos Karlien” waar Karlien van Jaarsveld ’n rol speel.”
Dit lyk of 2021 ’n bedrywige jaar gaan wees vir Theo Nel aangesien die talentvolle man beplan ’n nasionale toer. Dis te sê as Covid-19 regulasies dit toelaat.
Nel sê sy rolmodel is Juanita du Plessis met haar pragtige hart.
“Ek is absoluut gaande oor Juanita. Sy is ’n fantastiese vrou, sy het soveel talent, sy is ’n pragtige mens, met ’n liefde vir musiek en haar medemens, sy is die ideale rolmodel,” sê Nel.
Theo Nel se nuwe musiekvideo word Vrydag, 30 Oktober, vrygestel. Sy nuutste album Is Jy Reg? word amptelik 7 November 2020 vrygestel.
Vir meer inligting oor Nel se musiek, besoek gerus sy sosiale-media blaaie:
Facebook: www.facebook.com/theo.nel.750
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
