‘n Boerboel jaag eienaar groot skrik op die lyf
“Clara het haarself soos ‘n stout kind gedra. Sy het glad nie stil gesit nie en sy was baie moeilik gewees."
’n Sewejarige boerboel, Clara, het hierdie week haar eienaar groot skrik op die lyf gejaag.
Dit nadat die vierpotige dier, per ongeluk op die handrem van Marilise Barnes se Hyundai i20-voertuig getrap het.
Barnes sê dat sy vir Clara na Queenswood dierekliniek in die Moot gevat het nadat sy vermoed het dat Clara ’n oorinfeksie het.
“Clara het haarself soos ’n stout kind gedra. Sy het glad nie stil gesit nie en sy was baie moeilik gewees.
“Sy het selfs op haar magie by die dokter se spreekkamerdeur probeer ontsnap,” vertel Barnes.

Toe Clara klaar met haar ondersoek was, het Barnes besluit om haar vinnig in die motor te laai sodat sy die rekening kan afhandel.
“Ek was skaars klaar om die rekening te betaal, toe ’n vrou by die veearts ingehardloop kom en vir my sê: ‘Mevrou! Jou hond is besig om met jou voertuig in die straat af te ry!’”
“Ek hardloop by die deur uit om te kyk wat aangaan en wraggies waar, daar staan my voertuig half in die straat af, ’n paar meter van waar ek parkeer het.”
Barnes het haar vierpotige kind in die agterste gedeelte van die voertuig gelaai.
“Sy moes oorgespring het en per ongeluk op die handrem getrap het.
“Ek het myself dood geskaam. Daar gaan Clara met my voertuig deur die veearts se blombedding.
“Die sekuriteit het gelukkig gesien wat gebeur het, en kon die motor betyds tot stillstand bring,” vertel sy.
“Ek is seker die beskermsengele het oortyd gewerk.”
Gelukkig is Clara en Barnes se voertuig ongedeerd na hierdie petalje.
“Ek het so groot geskrik en het so skaam gekry oor die chaos wat Clara veroorsaak het,” sê Barnes giggelend.
“Met die groot geskrik ek het heeltemal vergeet om die hele storie op video vas te vang.
“Dit is beslis ’n verhaal vir die boeke,” sluit Barnes verlig af.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
