Local newsNews

Moot kultuurgroepe maak Louis Trichardt-gedenkterrein skoon

Hierdie gedenksteen is opgerig ter herdenking van die Louis Trichardt-wa wat hier oornag het tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938.

Verskeie kultuurgroepe het Saterdag die Louis Trichardt-gedenksteen en gedenkterrein in Wonderboom-Suid in Pretoria skoongemaak

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Moot-Kultuurnetwerk, Boere-erfenisvereniging, Moot GPF, FAK-vriende en die Generaal Hertzog Voortrekkerkommando het almal gehelp skoonmaak.

Die Louis Trichardt-gedenksteen is opgerig ter herdenking van die Louis Trichardt-wa wat hier oornag het tydens die simboliese Ossewatrek van 1938.

Ten spyte van reën is die baie lang gras rondom die gedenksteen gesny en die pale en kettings rondom die steen weer opgetel en skoongemaak.

Die gedenksteen. Foto: Verskaf

Dup du Plessis van die Boere-erfenisverening vertel die geskiedenis as volg:

“Die Louis Trichardt-trek het van Carolina na Pretoria getrek. Op 24 November 1938 het dit op Barberton aangekom, op 26 November op Nelspruit en op 29 November op Pelgrimsrus en Ohrigstad.

“Daarna op 30 November by Burgersfort en op 5 Desember 1938 op Pietersburg en Louis Trichardt, 7 Desember op Potgietersrus, 8 Desember op Naboomspruit, 9 Desember Nylstroom en op 10 Desember op Warmbad.

“Nou kom ons eers by Pretoria. Toe die wa op 12 Desember by Pretoria-Noord se brug aankom, was dit onder groot geesdrif en vreugde van omtrent 2 000 mense begroet.”

Die “Louis Trichardt” was ook die eerste wa wat die “Voortrekkerstad” binnegery het, vandaar die groot opgewondenheid, voeg hy by.

“Toe die wa oor Voortrekkernek in Wonderboom-Suid aankom, was daar ’n geesdriftige skare en fakkeldraers wat al van bo-op die nek die wa te voet gevolg het tot by Klipkoppies.

“Saluutskote het van die omliggende koppies af weergalm en vuurpyle is afgevuur.

Met brandende fakkels is die wa die feesterrein ingelei,” vertel hy verder. “Die vrou van die destydse burgemeester,

Die lang gras word gesny. Foto: Verskaf

lt.kol. Ben Swart, het die wa daar welkom geheet. ’n Skare van 9 000 mense het by Klipkoppies vergader waar die burgemeester self ook ’n rede gelewer het.

“Die aand het HC de Kock ook ’n kragtige pleidooi gelewer dat die volk se geskiedkundige besittings beter waardeer en opgepas moet word.

Die terrein by Klipkoppies is toe ook verdoop tot die Louis Trichardt Plein en Derdestraat se naam is verander na Hendrik Potgieterstraat,” sê hy.

FAK se kultuurorganiseerder Barry Müller sê:

“Dit is ’n trotse dag vir ons Afrikaner-identiteit, wanneer mens sien hoe Afrikaners van verskillende instansies, gebiede en agtergronde kan saamkom met ’n enkele doel en visie van hernuwing en dat eienaarskap geneem word om ons eie erfenis te bewaar”.

Die gedenksteen. Foto: Verskaf

LEES OOK: Skoonmaak veldtog in die weste geloods Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114. Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button