Liefdadigheidsorganisasie maak tweede winkel in die Moot oop
"Die Covid-19-pandemie het baie gesinne behoeftig gelaat en meeste is aangewese op die genade van organisasies soos Helpende Hand."
“Liefdadigheid begin by die huis.”
Hoewel dit ’n baie bekende gesegde is, is daar hoeveel van ons wat meer die dieper waarde in daardie paar woorde besef, veral liefdadigheidsinstansies soos Helpende Hand, ’n organisasie wat, saam met AfriForum, onder die Solidariteit-sambreel saamwerk om ’n verskil in die lewens van behoeftige en kwesbare inwoners te maak.
Een van die grootste projekte van Helpende Hand, is ’n reeks skenkingwinkels, “Ons Winkels”.
Daar is bykans 110 winkels landwyd en die Moot is die tuiste van twee. Een in Ben Swartstraat, Gezina, en onlangs het nog een sy deure in Codonialaan in Waverley oopgemaak.
Alet Robbeson en haar man Hendrik is die mede-eienaars van “Ons Winkels” wat in die Moot-area gevestig is.
“Ben Swartstraat se winkel is al meer as sewe jaar in bestaan en was een van die eerste van vyf in die land. Ons het die winkel amptelik in 26 Mei 2021 oorgeneem,” sê die paartjie.
Die Waverley “Ons Winkel” het as ’n droom begin.
“Ons wou die gemeenskap na aan die kernbesighede ook bedien. Die regte perseel was op ’n goeie tyd aan ons geopenbaar, ons neem toe hierdie groot stap in geloof en die winkel is in Februarie geopen. Hierdie is bewyse dat drome waar kan word as jy uithou en aanhou.”
Die winkels kan egter net voortbestaan deur skenkings wat vanuit die gemeenskap ontvang word.
“Ons Winkel” is baie meer as net nog ’n tweedehandse winkel.
“Enigiets van tuingereedskap, meubels, linne, kombuisware, klere of enigiets in en om die huis maak ’n verskil. Daar is ook skilderye en blompotte te vinde asook trourokke, matriekafskeidsrokke, vooraf-geliefde klere van ’n baie goeie gehalte vir elke modetipe en smaak ook te koop.”
Lede van die gemeenskap wat hul huise skoonmaak vir spasie of na ’n kleiner plekkie toe trek en ontslae wil raak van verskeie goedere wat hulle nie meer wil hou nie, kan dit met liefde aan die winkel skenk.
“Alle skenkings wat ontvang word, word eers uitgesorteer. Eerste word maatskaplike behoeftes na omgesien, daarna word die res van die skenkings in “Ons Winkel” verkoop.
“Die fondse word gebruik om mense in die Moot-gemeenskap te versorg. Alles word goed beplan en diskresie moet deeglik gebruik word, want byvoorbeeld ’n honger kind kan nie ’n trui eet nie. Die Covid-19-pandemie het baie gesinne behoeftig gelaat en meeste is aangewese op die genade van organisasies soos Helpende Hand,” sê hulle.

Die wins wat deur die verkope genereer word, maak voorsiening vir onder andere studiegeleenthede, en dit word ook vir bejaardes, sowel as kinders aangewend.
“Ons kan ook met blydskap sê die fokus op verligting van armoede word prakties uitgeoefen deur werkskeppingsgeleenthede in die winkels beskikbaar te kan maak.
“Ons is ’n deursigtige organisasie wat ’n verskil maak om ons mense te help.
“Dis die hoofrede vir ons bestaan – liefdadigheid en armoedeverligting. Mense wat skenkings maak, help ’n behoeftige familie, kind of bejaarde persoon en baie besef nie hoe hul vrygewigheid gebede beantwoord nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
