Familiedag-skattejag by Voortrekkermonument bring hulde aan Afrikanerheld
Daniël Johannes Stephanus Theron, ’n Boereheld van die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) wat op 9 Mei 1872 gebore is, was bekend as spioen en verkenner wat die Britte se planne om elke hoek en draai gestuit het.
Die Voortrekkermonument se terrein is behoorlik platgedraf tydens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Danie Theron familiedag-skattejag die afgelope Saterdag.
Die FAK-kultuurnetwerke, in samewerking met Fort Schanskop, die Voortrekkermonument se verskeie fasiliteite en die Erfenisstigting, het dié familiedag-skattejag aangebied ter herdenking van Theron se 150e verjaarsdag.
Altesaam 54 mense en kinders, gesinne en groepe vanuit die Voortrekkers en Volkspele, het in dié uitdaging die stryd teen tyd aangepak.
Om in die groot skoene van hul voorsate, wat die Groot Trek tot en met die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) beleef het, vol te staan moes dié spanne elke greintjie vernuf inspan om hul teenstanders uit te oorlê.
Imoné Theron, een van die lede van die wenspan, het die volgende te sê gehad oor hul oorwinning: “Ek skryf ons oorwinning toe aan spanwerk en ’n heerlike lekker gees wat oorheers het, maar die beste is om die dag saam met my kinders te spandeer.”
Daniël Johannes Stephanus Theron, ’n Boereheld van die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) wat op 9 Mei 1872 gebore is, was bekend as spioen en verkenner wat die Britte se planne om elke hoek en draai gestuit het.
Met die idee van leer deur speel, leer die jeug weer van die pionier wat altyd ’n plan moes maak of een gehad het.
Die spanne meet nie net hul kragte teen mekaar nie, maar ook teen ons helde van ouds.
Die skattejag het die deelnemers toegelaat om die hele terrein van die Voortrekkermonument te verken metet die afskop by die beeld van Theron by Fort Schanskop en besoeke by die Erfenisstigting, Pioniersentrum, Skool op Wiele en vele meer.
By die Pionierswerf word beoog om ’n pioniershuis van kleibakstene te bou en die deelnemers het die voorreg gehad om die eerste bakstene vir dié spesiale projek te maak.
Jonk en oud het die skattejag geniet.
Milan Willemse (9), wat saam met haar familie aan die skattejag deelgeneem het, vertel dat dit nie vir haar oor wen gegaan het nie.
“Dit gaan nie oor wen nie, dit gaan oor spanwerk en om jou beste te gee,” sê die jongeling.
Die spanne kan nie wag om weer die monument te besoek en weer deel te neem nie.

LEES MEER: Die Groot Trap vier fietsryers se terugkeer na die pad
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
