Local newsNews

Voortrekkermonument vier internasionale museumdag

Verskeie karakters vanuit die geskiedenis was te siene op die monument se terrein, onder andere Paul Kruger, Jopie Fourie en Emily Hobhouse.

Ter viering van Internasionale Museumdag, het die Voortrekkermonument seker gemaak dié dag bly onvergete.

Fort Schanskop het vir die eerste keer skote gesien met die afskop van sy “Boer of Brit, wie is die beste skut” se laserskietoorlog.

Twee spanne het kragte gemeet in die skynoorlog van die eeu.

Die jeug kom leer graag van hul verlede en so word die trots vir taal, volk en kultuur aangewakker.

Annemé Venter (11) is baie trots om ter viering van Internasionale Museumdag wat op Woensdag, 18 Mei gevier is, geskiedenis te kon skryf deur aan die heel eerste skynoorlog by die fort deel te neem.

“Dit is die moeite werd en ons het dit baie geniet,” sê die jongeling.

Die laserskietoorlog is egter slegs die kersie op die koek.

Verskeie karakters vanuit die geskiedenis was te siene op die monument se terrein, onder andere Paul Kruger, Jopie Fourie en Emily Hobhouse.

Armand Venter het spesiaal ’n dag verlof geneem by die werk om sy dogter, Ash-Lynn Venter (4), monument toe te bring.

Hy is as Fourie aangetrek en Ash-Lynn as Hobhouse.

“Ek was nog altyd ’n rebel en is mal oor Jopie [Fourie] se storie. Ek moes net vandag my dogtertjie bring. Dit is wonderlik om te sien hoe die monument die geskiedenis weer lewendig maak.

“My vriende het nooit baie van geskiedenis gehou nie, maar ek was mal daaroor en ek glo dis belangrik dat my dogtertjie van ’n jong ouderdom af van ons geskiedenis leer en dit ook beleef,” sê Venter.

Op hierdie geskiedkundige dag was dit lekker om die monument ook met vele internasionale besoekers te kon deel.

In die parkeerterrein was busse van die Verenigde Koninkryk, Finland, Nederland, die VSA en Australië op een slag te siene gewees.

Rietvlei Akademie in Lyttelton het met ’n groep van 49 leerders die dag by die monument deurgebring en onder andere ook die Pioniersentrum besoek en boeresport gehou.

Met soveel besienswaardighede by die monument, is een dag amper nie genoeg om by alles uit te kom nie.

LEES MEER: Oos-Moot skop Noordvaal toernooi af met puik oorwinning

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button