Noord-organisasie samel geld in vir NPO’s in gemeenskappe
“AFM alleen, het meer as 58 kinderhuise regoor die land, en dit sluit nie eers hulle babahuise, plekke van veiligheid of ouetehuise in nie, hierdie is net kinders sonder ouerlike ondersteuning.”

’n Fondsinsamelingsmaatskappy van Magalieskruin in die noorde van Pretoria help graag nie-winsgewende organisasies (NPO) om fondse in te samel vir ’n groot aantal gemeenskapsprojekte.
Positive Response, ook bekend as PR Fundraising, onder leiding van die stigter Adri Ras, is in April 2021 gestig.
“Ons ondersteun organisasies soos Media Kidz SA, Eksderde Christelike kampe, en ondersteun ook tehuise vir bejaardes, bejaarde siekes, kinderhuise, babahuise en plekke van veiligheid, onder die vaandel van AFM (Apostolic Faith Mission),” sê Ras.
“Ons bedryf ’n belsentrum in Magalieskruin, onder bestuur van Charmaine du Plessis.
“Ons het verteenwoordigers regoor die land wat help met die fondsinsameling vir bogenoemde liefdadigheidsorganisasies.”
Ras sê die organisasies skep nie net werk vir oud en jonk nie, maar speel ’n integrale rol in hul onderskeie gemeenskappe, vanwaar hulle weer ander gemeenskapslede ondersteun.
“Media Kidz SA beywer hulle om minderbevoorregte kinders te ondersteun met voedsel, klere, onderrig, basiese gesondheidsdienste en ook veilige huisvesting. Hulle staan ook gesinne by waar beide ouers hul werk verloor het, meestal as gevolg van Covid-19, of om watter rede ookal.
“Eksderde Christelike kampe bied gratis kampe aan in Pretoria en Mosselbaai vir Christene, waar mense wat soekend is werklik vervulling kan vind en ’n ontmoeting met hul Skepper kan hê.”
Ras sê hulle bied ook gratis jeugkampe aan vir kinders van verskillende ouderdomsgroepe wat meestal maandeliks plaasvind. Daar word ook vrouekampe en mannekampe aangebied.
“Meer as 9 000 mense woon hierdie kampe jaarliks by, maar die finansiële druk om hierdie kampe steeds aan te bied kan nogal ’n nagmerrie wees, en dis waar ons organisasie inkom.
“PR Fundraising help met die insameling van donasies sodat hierdie kampe steeds gratis aangebied kan word.
“AFM alleen het meer as 58 kinderhuise regoor die land, en dit sluit nie eers babahuise, plekke van veiligheid of ouetehuise in nie, hierdie is net kinders sonder ouerlike ondersteuning.”
Bestuurder van Positive Response, Charmaine du Plessis, vertel die regering is nie meer in ’n posisie om hierdie instansies gedeeltelik of ten volle te ondersteun nie en daarom is hulle van donasies afhanklik om vir al hierdie kinders en bejaardes voldoende te kan sorg.
“PR Fundraising speel voorwaar ’n groot rol met betrekking tot die insameling van donasies om hierdie instansies aan die gang te hou sodat hierdie kinders en bejaardes darem ’n plekkie het wat hulle ‘huis’ kan noem en waar hulle veilig en versorg is,” sê Du Plessis.
“Ons glo dat dit belangrik is om ’n verskil te maak in ander se lewens, daarom is ons leuse ‘empowering change’ want elke mens op hierdie aarde kan ’n verskil maak.”
Indien inwoners betrokke wil raak by een van die projekte of selfs by PR Fundraising wil aansluit, stuur ’n e-pos na charmaine@positiveresponse.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
