AfriForum verwyder sluipslaperskampe uit Waverley-reservoir en spruit
"Kriminele kom deur die berg en sit in die reservoir se gronde en hou hulle huise dop."
AfriForum se Groter Moot-tak het sluipslaperkampe by die Waverley-reservoir gevind en verwyder.
“Ons het die projek daar aangepak omdat die inwoners vir ons baie mooi gevra het om in te gryp,” verduidelik buurtbeampte Andries Opperman.
“Kriminele kom deur die berg en sit in die reservoir se gronde en hou hulle [inwoners se] huise dop.
“Die reservoir is ook vervuil met indringerbosse.”
Die span het vroeër in die week ’n sluipslaperkamp by die Moot-spruit verwyder.
Misdadigers wat toegang wil verkry tot die reservoir en woonbuurt, breek gate in die betonheinings.
“Die sluipslapers kamp daar.
“Hulle maak na hartelus vuur, drink, baklei en maak ’n gemors van die area.”
Opperman verduidelik dat hulle nog stadig vorder om die terrein te ontbos en op te ruim.
Besoedeling van die spruit is steeds ’n bron van kommer vir die gemeenskap.
“Die Moot Noord- en Suidspruit sowel as die Hartbeesspruit is nou al dekades nie behoorlik in stand gehou nie.
“Die spruite is tegelyk ’n reuse-uitdaging wat die veiligheid van die Moot bedreig, maar ook ’n pragtige stukkie genade om groen en blou te bring tussen die huise,” sê Opperman.
Volgens Opperman, spuit daar water uit die pype en lek en borrel uit die grond langs die reservoir en loop by die pad af.
“Die bome breek die sementwalle van die kanaal.”
Sedert April 2019 het AfriForum Groter Moot deurlopend en gereelde gemeenskap spruitskoonmaak-aksies gehou in die Moot.
Dit is intussen ook aangevul deur duisende ure se werk deur die buurtspan wat die tak aangestel het.
Die AfriForum Groter Moot-buurtwag patrolleer ook gereeld die spruite en het al by verskeie geleenthede daggaplantasies daaruit verwyder en verdagtes daar arresteer.
“Ons is nou besig om met die uiters beperkte hulpbronne tot ons beskikking hierdie noodsaaklike instandhouding werk te begin doen.
“Ons hoop is dat die gemeenskap sal inkoop en ons help om die spruite te ontwikkel.
“Ons wil die spruit voet- en fietsvriendelike gebiede maak waarbinne ons kinders die natuur kan geniet,” sluit hy af.
Skoolkoor bekoor internasionale beoordelaars
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
