Waverley sonder krag vir meer as 72 uur weens kabeldiefstal
Drie groot kragkabels is gesteel en die metro moes oortyd werk om die kabels wat meer as 10 meter ondergronds is, te herstel.
Waverlery-inwoners was vandeesweek vir meer as 72 uur sonder krag nadat drie groot kragkabels gesteel is.
Talle inwoners het hulself Donderdagoggend omstreeks 01:00 in die donker bevind, lank nadat beurtkrag beëindig is.
Volgens inwoner, Chris Wilke, is krag eers laat Sondagaand omstreeks 23:00 herstel.
Spanne van die metro het oortyd gewerk vir die reuse-onderneming om die kabels, wat meer as 10 meter ondergronds is, te herstel.
Wilke sê inwoners het al hoe meer gefrustreerd geraak namate die kragonderbreking voortgeduur het.
Raadslede Mari Joubert en Roche Grebe het toesig gehou oor die herstelwerk en het inwoners heeltyd op datum gehou.
MMC vir gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, was ook op die toneel en het inwoners op hoogte gehou.
Joubert het Rekord vertel dat hierdie nie die eerste keer is wat die kabels gesteel is nie.
“Hierdie gebeur aanhoudend.
“Dit is die derde keer dat dit in die bestek van ’n jaar gebeur.”
Inwoner James Lehman vertel oor hoe gefrustreerd baie inwoners tydens die kragonderbreking was.
“Ons was vir byna vier dae sonder krag,” het hy aan Rekord vertel.
“Wat regtig vir ons kommerwekkend was, was die gebrek aan nuus wat van die metro af gekry is.
“Maar ons raadslede Mari Joubert en Roche Grebe het ongelooflik goeie werk gedoen.
“Hulle het kundiges van buite gekry om die probleem aan te spreek en het ons heeltyd op hoogte gehou.”
Waverley-inwoners het saam hande gevat en die werkers voorsien met kos en warm koffie.
Hoewel hulle tevrede was met die metro se werk, voel hulle steeds daar is ’n probleem met dienslewering.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
