Pretorianer maak naam in Rusland as gemengde gevegskuns ster
Die gemengde gevegskuns ster, Mark Hulme, se pad na erkenning as wêreldklas atleet was lank en vermoeiend en – eie aan sy aard – het hy verkies om soms alternatiewe roetes op pad daarheen te meem, maar deesdae is dié Pretorianer groot nuus in Rusland se grootste gevegskuns ligas.
Die naam Mark Hulme sal nie sommer ’n klokkie lui by die gemiddelde sofapokkel wie se kennis van die uiters gewilde gemengde gevegskuns sportkode berus op die hoofopskrifte elke keer as die supersterre van dié sport in die gevegshok klim nie.
Tog het dié 32-jarige Pretorianer al wêreldwyd teen van die beste middel- en weltergewig vegters kragte gemeet en is hy deesdae ’n groot gunsteling in top gevegskuns ligas in Rusland en Oos-Europa. Daarbenewens was hy vir baie lank een van die voormalige UFC middelgewig kampioen, Dricus du Plessis, se oefenmaats, wat hom tydens oefenkampe voor groot tooernooie bygestaan het met sy voorbereiding.
Nadat hy die afgelope jaar met ’n paar sterre in daardie geledere afgereken het, het Hulme nou ’n gunsteling by promotors van dié sport in die Eurasië-streek geword.
Mark Hulme het se pad na erkenning en top geleenthede was egter nie maanskyn en rose nie. Trouens, sy verhaal klink plek-plek byna soos die draaiboek van ’n Hollywood film, met hom as die hoofkarakter wat die een fisieke en psigiese struikelblok na die ander moes oorkom om uiteindelik as internasionaal gerekende gemengde gevegskuns atleet gevestig te wees.
Sy verhouding met die gevegskuns het reeds as 15-jarige skoolseun aan HTS John Vorster in Pretoria se Moot begin toe hy sy weg na die geveghok via sy verbintenis met die gevegskode ‘jiu-jitsu’ gevind het.
Hy het as jiu-jitsu spesialis by ’n gimnasium in Pretoria begin deelneem aan gemengde gevegskuns en op 17-jarige ouderdom sy eerste amptelike amateurgeveg beleef. Na tien amateurgevegte in net twee jaar het Hulme ’n kontrak by die plaaslike professionele liga, Extreme Fighting Championship (EFC), losgeslaan vir sewe gevegte, waartydens hy groot sukses behaal het as middelgewig vegter.
Ná ’n sabbatsverlof van 18 maande tussen Desember 2016 en Junie 2018 het Hulme terugekeer na die geveghok toe hy ’n aanbieding kry na ’n toernooi van die gesogte Russiese M-1 Global liga. By dié toernooi reken hy deur middel van die smoorgreep-metode in die eerste rondte af met Vadim Shabadash van Oekraïne, waarna hy uitgenooi word om aan die BRAVE Combat Federation van Bahrein se toernooi by Sun City in Noordwes teen die bekende Amerikaner Adam Townsend te veg.

Foto: Verskaf
Hulme klop Townsend met punte, maar doen vir die eerste keer ’n ernstige besering op in dié geveg. Ná sy herstel sluit hy aan by die bekende CIT Performance Institute in Hatfield, ook die tuiste van Pretoria se twee bekende Ultimate Fighting Championship (UFC) vegters, Dricus du Plessis en Cameron Saaiman.
Intussen word Hulme deur nóg ’n groot Russiese gevegskunsliga, Absolute Championship Akhmat (ACA) gewerf, maar sy deelname aan dié liga se toernooie word vertraag deur ’n besering weens ’n motorfiets-ongeluk en later weens Covid-verwante reisprobleme.
“Teen daardie tyd was ek moedeloos en emosioneel op ’n laagtepunt. Ek het besluit om ’n Pelgrimstog aan te pak om myself weer te vind. Met net ’n rugsak het ek in 50 dae van Pretoria na Kaapstad gestap. In die Kaap het ek die sogenaamde ‘13 Peaks Challenge’ aangepak en terwyl ek daar in die berge stap het my bestuurder gebel om my in te lig dat ACA my weer ’n aanbod gemaak het om in Desember 2020 in Moskou te veg,” het Hulme tydens ’n onderhoud met Rekord vertel.
Met die hulp van ’n tydelike afrigter in Johannesburg wen hy dié geveg, maar verloor dan die volgende geveg onder ACA se vaandel in Rusland nadat hy 12kg gewig kort voor die toernooi moes afskud.
Na dié terugslag sluit Hulme weer by CIA in Hatfield aan waar hy vir langer as ’n jaar vir Dricus du Plessis as oefenmaat bystaan, onder andere vir sy UFC gevegte teen Brad Tavares en Darren Till.
In April 2023 keer hy terug na die plaaslike EFC, waar hy Ziko Makengele van die DRK in die eerste rondte met ’n smoorgreep tot oorgawe dwing om dié organisasie se weltergewig titel te wen.
Hierna veg Hulme onder die vaandel van organisasies soos die UAE Warriors van Abu Dhabi en Unified Mixed Martial Arts van Kanada, terwyl hy ook deelneem aan die Amerikaanse werklikheids TV-reeks, The Ultimate Fighter.
Die frustrasie van nóg ’n besering, wat eindig met ’n operasie aan sy bo-arm spier (bisep), het egter gesorg vir ’n baie positiewe wending in Hulme se loopbaan toe sy paaie kruis met die bekende en hoogs gerespekteerde fiksheids- en kondisioneringsafgerigter, Naat Loubscher, wat jare aan Tuks se Hoëprestasiesentrum verbonde was.

Foto: Verskaf
“Ek beskou Naat as my geheime wapen. Ek het nog alyd die tegniese aspeke van die gevegskuns maklik bemeester, maar ek besef nou dat ek nie genoeg krag en uithouvermoë gehad het vir sekere van dié aspekte nie. Dis waar Naat die groot verskil gemaak het,” het Hulme die invloed van Loubscher op sy loopbaan opgesom.
In sy eerste geveg nadat Loubscher hom onder hande geneem het, klop hy die hoogaangeskrewe Griek en voormalige UFC ster, Andreas Michailidis, in die Oktagon MMA liga, wat in die Tsjeggiese Republiek en Slowakye gesetel is.
Hy het Dricus du Plessis nog in Kanada as oefenmaat bygestaan, waar hy die UFC titel teen teen Sean Strickland gewen het, maar ná die geveg teen Michailidis het Hulme by die voormalige wêreldkampioen bokser, Sebastiaan Rothmann, se gimnasium by Loftus Versfeld gaan aanklop vir hulp met sy tegniese vaardighede as hy “op sy voete” moet veg.
Na nog ’n geveg in Praag (Tsjeggiese Republiek) onder Oktagon MMA se vaandel is Hulme weer deur ACA in Rusland gewerf. In Junie vanjaar het hy die Rus, Artem Frolov, in die stad Omsk aan die Irtisj-rivier in Siberië aangedurf. Ongelukkig het hy dié geveg verloor toe Frolov sy oogkas met ’n frats-vuishou oopgekloof het.
“Die ondervinding in ’n Russiese hospitaal na die geveg was iets wat my die langste sal bybly van die hele ervaring in Siberië. Dit was nogal ’n kultuurskok,” het Hulme vertel.
Ten spyte van dié ervaring kan beide Hulme en Rothmann nie uitgepraat raak oor hul positiewe ervaring in Rusland nie. Hulle stem saam dat daar baie verkeerde persepsies oor dié land is. Dis veral die professionele wyse waarop hulle as sportmanne hanteer is en die verbasende ekonomiese vooruitgang in Rusland wat hulle met nuwe oë na Rusland laat kyk het.
Intussen was Hulme verlede maand terug in Rusland om teen die ervare Murad Abdulaev in die stad Grozny in ’n ACA toernooi te veg. Hy het dié geveg met punte gewen en die Russe het reeds begin voelers uitsteek om hom in Desember vanjaar of vroeg volgende jaar terug te lok vir nog ’n toernooi.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
