Local newsNews

44 000 besoekers by Voortrekkermonument in ses maande

Vanjaar het ongeveer 13 000 plaaslike besoekers reeds die monument besoek terwyl die internasionale besoekersgetal verdriedubbel het in dieselfde tydperk.

Bykans 24 000 besoekers het reeds voor Juniemaand vanjaar besoek kom aflê by die Voortrekkermonument (VTM).

Geloftedag 2022 was die derde grootste in die geskiedenis van die VTM, met ongeveer 20 000 mense wat dié dag daar kom vier het.

Dit het die grondslag gelê vir die eerste ses maande van 2023 met meer as 44 000 besoekers wat sedert Desember die monument besoek het.

Vanjaar het ongeveer 13 000 plaaslike besoekers reeds die monument besoek, terwyl die internasionale besoekersgetal verdriedubbel het in dieselfde tydperk.

Tussen Januarie en Junie 2022 het 3 443 oorsese toeriste by die VTM besoek kom aflê, terwyl daar vanjaar reeds 10 993 besoekers van regoor die wêreld daar gaan uitspan.

Die monument het vroeër die maand tydens hul algemene jaarvergadering teruggekyk op ’n jaar se suksesse en seges.

Die Transvaal Voortrekkermuseum wat op 10 Junie amptelik by die VTM geopen is, vertel die verhaal van die Transvaal Voortrekkers, een van die grootste gebiede wat deel uitmaak van die Voortrekker-jeugbeweging.

Daarmee saam het die VTM hul bestaande Vrijheidsreis-museumuitstalling uitgebrei met die onlangse toevoeging van die Rapportryersbeweging-uitstalling in die museum.

Die nuutste toevoeging tot die monument, die Toekomsbou Museumteater, vertel die verhaal van die Afrikanervrou van 1902 tot vandag.

Dié museumteater is die eerste van sy soort in Afrika én die suidelike halfrond en neem toeskouers van vertrek tot vertrek op reis deur die Afrikaner se geskiedenis.

Buiten vir hierdie opwindende uitbreidings, is die VTM ook besig met verskeie ontwikkelings soos ’n nuwe ontvangslokaal.

Marianda Schlebusch, die VTM se bestuurder van Kultuurtoerisme, sê hierdie suksesse is te danke aan die inkoop van die publiek en die volgehoue ondersteuning van plaaslike besoekers.

“Die VTM-personeel werk daagliks baie hard om ons kultuuraanbod uit te brei en ek dink dit is hoekom ons dit regkry om al hierdie suksesse te behaal,” sê sy.

“Hier by die VTM geniet toeriste ’n unieke kultuurervaring.

“Dit is nie net ’n museum waarby jy inloop, kyk en weer uitloop nie, maar ’n plek waar jy die geskiedenis kan ervaar.

“Ons is baie dankbaar aan elke besoeker, maar veral aan plaaslike besoekers wat weer en weer terugkom,” sluit sy af.

Knights rugbyklub groei, Jeugklub begin oefen

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button