Doornpoort-inwoners ontstoke oor dienslewering
Inwoners van Doornpoort meen hul klagtes oor dienslewering word nie aangespreek nie omdat kommunikasie in sosiale mediagroepe onvoldoende is en 'n wyksraadslid nie sy kant met klagtes bring nie.
Doornpoort-inwoners is ontstoke oor die beweerde gebrekkige administrasie van munisipale klagtes in wyk 96.
Die klagtes sluit in onvoldoende reaksie op kragonderbrekings nie te wyte aan beurtkrag, verstopte stormwaterkanale, slaggate, die verval van oop areas in die buurt, verwaarloosde bewaringareas en eise teen die metro, sowel as die vloei van inligting op WhatsAppgroep-kommunikasie.
Die groep is ook ontsteld omdat hulle reeds aan die begin van Junie die burgemeesterskantoor onder die leiding van inwoner Yolande Henning om ’n vergadering aangevra het.

“Ons wil graag ’n goue middeweg vind rondom munisipale kwelpunte in die area en probleme met die wyksraadslid, Gé Breytenbach,” sê Henning.
“Ons het die afgelope maand nog geen antwoord van die burgemeesterskantoor rakende ons versoek om ’n vergadering ontvang nie.
“Noem ons maar Donkerpoort of Droogtepoort, want as ons nie sonder water is nie, is ons sonder elektrisiteit.”
Metro-woordvoerder, Sipho Stuurman, het op Rekord se navrae aan die burgemeesterskantoor geantwoord dat hulle wel ’n e-pos van ’n beswaarde inwoner ontvang het.
Stuurman bevestig dat verskeie groot uitdagings, soos die Rand Water-watervoorsieningsprobleme, onlangs die burgemeester, Cilliers Brink, se onmiddellike aandag geverg het.
Hy sê dat Brink so gou moontlik ’n oorsigbesoek aan die wyk sal bring en met inwoners hul klagtes sal bespreek.
Henning het uitgewys hulle voel dis nie te veel gevra dat ’n raadslid pro-aktief optree en behulpsaam moet wees nie.
“Ons is keelvol vir die gebrek aan tydige aandag aan ons klagtes.”
Henning en ander inwoners beweer dat hul klagtes oor die opvolg van klagtes deur die wykraadslid Gé Breytenbach, asook by die DA-leiers, op dowe ore val.
Die DA-hoofsweep in die metro, Christo van den Heever, sê dat hy en die DA se kiesafdelingshoof, Adriana Randall verskeie besprekings met Breytenbach gehad het rondom die bestuur van wyk 96.
“Ons is tevrede met die kwaliteit van sy werk as wyksraadslid en weet dit vind somtyds onder moeilike omstandighede plaas.”

Van den Heever sê inwoners moet begrip toon dat raadslede net terugvoer kan gee oor klagtes indien hulle terugvoer ontvang.
Hy meen die klagtes oor Breytenbach is polities gemotiveerd deur ’n paar partye.
Breytenbach sê dat hy ’n lid van talle WhatsApp-groepe in die wyk is en op sommiges die administrasie behartig.
“Ek het nog nooit self enige WhatsApp-groep vir kommunikasie oor klagtes gesluit nie.”

Hy glo dat hy genoeg met wyksbewoners via WhatsApp, e-posse en sosiale media kommunikeer.
Oor klagtes waarop daar moontlik nie onmiddellik op reageer word nie, sê Breytenbach: “My plig is nie om met die beamptes se werk in te meng nie. My reaksietyd daarop val ook binne die stadsraad se bepalings oor hoe daar op sulke klagtes reageer moet word.”
“Ek beskik wel oor die vermoë om terugvoer te gee wanneer ek inligting ontvang.
“Die vraag is of die klagtes deur die regte kanale gekommunikeer is?”
Hy benadruk dat die bewering dat hy nie in die wyk woon nie, onwaar is.
“Wyk 96 bestaan nie net uit Doornpoort nie. Dit is nie te sê as jy nie in Doornpoort woon nie, dat jy buite die wyk woon nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
