Local newsNews

Pretoria-skoolkoor sing toekennings los by internasionale koorkompetisie

Die koorleier van die wenkoor van Die Hoërskool Menlopark, Jeanmari van Papendorp, glo spanwerk en energie het gesorg vir hul toekennings by die 12e Internasionale Johannes Brahms-koorkompetisie in Wernigerode in Duitsland.

Die Hoërskool Menlopark koor is aangewys as kategoriewenners en as beste gemengde jeugkoor by die 12e Internasionale Johannes Brahms-koorkompetisie in Wernigerode in Duitsland.

Die koor, onder leiding van Jeanmari van Papendorp, het ook weggestap met ’n spesiale toekenning vir die vertolking van die liedjie van Katerina Gimon naamlik “Air and Fire”.

Die kompetisie is van 5 tot 9 Julie in die kleurvolle stad in die provinsie Harz aangebied.

Soveel as 27 kore van 14 lande het in die verskillende kategorieë deelgeneem.

Van Papendorp sê om ’n koor tot sulke sukses aan te spoor verg baie energie, passie, kennis, dissipline en liefde. Sy sien kans vir die uitdaging.

“Ek is ’n dankbare, bevoorregte koorleier omring deur hartsmense! Natuurlik word koorleiers ook beinvloed deur mentors. Maar passie vir musiek en om met kinders te kan werk, is van kardinale belang.”

Die koorlede is juis deel van haar inspirasie.

“Ek dink nie daar is nog koorlede soos dié van Die Hoërskool Menlopark s’n nie. Daar is iets in hierdie kinders se harte wat ons as ’n eenheid saamsnoer. Wat dan gebeur, is suiwere bekoring.”

Vir haar is kennis van musiek en koormusiek van kardinale belang.

“’n Koorleier moet poog om nooit te stagneer nie. Dis veral belangrik om aan te hou om met nuwe tendense te eksperimenteer en in voeling te bly met die generasie kinders met wie jy werk.”

Jeanmari van Papendorp.

Sy glo spanwerk maak ’n koor sterk.

“Almal moet inkoop en soos een familie funksioneer. Die skoolbestuur se ondersteuning is ook baie belangrik.”

Vir haar is dit ’n voorreg om in haar tyd as koorleier by Die Hoërskool Menlopark onder twee hoofde te gewerk het, dr. Carel van der Merwe en tans Schalk Reynders.

Die Brahms-kompetisie is een van Interkultur se kompetisies. Dié organisasie is die konsessiehouer van die Wêreldkoorspele. Die openingskonsert het plaasgevind by die Liebfrauen-konsertsaal op 5 Julie. Kore het ook in die duisend jaar oue Halberstadt-katedraal opgetree.

Die Hoërskool Menlo Park-koor het in die G3 Kategorie Gemengde Jeugkoor gesing en die kategorie gewen.

As gevolg van die kategorieprys, het die koor deurgedring na die Grand Prize-kategorie. In hierdie deel van die kompetisie het hulle teen volwasse kore, groepe en ensembles gesing.

“Daar het ons algeheel tweede gekom,” sê Van Papendorp.

Die deelnemers is beoordeel op tegniese vaardigheid wat intonasie en klank insluit sowel as artistieke aspekte.

Hierdie aspekte sluit in getrouheid aan bladmusiek, musikalteit en algemene indrukke.

Die koor se program vir die jeugkoorafdeling het die volgende werke ingesluit: “Gloria” (Franco Prinsloo), “Air and Fire” (Katariina Gimon), “Slaapliedjie” (Franco Prinsloo) en “Nkosi Sikelela iAfrica” (tradisioneel met verwerking deur André van der Merwe).

Vir die Grand Prize het die koor “Alleluia” (Jake Runestad) en “Maanmond” (Pieter Bezuidenhoud) vertolk.

Van Papendorp meen die koor het die spesiale toekenning vir die lied “Air en Fire” gekry omdat hulle die lied so na as moontlik aan perfek gesing het.

“Min kore waag dit om sulke werke te sing. Vir my is dit ook ’n indrukwekkende werk om aan te pak.”

Sy voel dat oefentye en hope pret tot hul sukses bygedra het. Daar was wel ’n paar uitdagings soos die hitte en humiditeit wat daarmee gepaard gegaan het.

“Dit was op die dag van die kompetisie 37ºC. Die kommunikasie was ook soms moeilik omdat nie almal Engels verstaan of kan praat nie.”

Van Papendorp het die ouers van koorlede hartlik bedank.

“Die ongelooflike ouerkorps staan lojaal agter die koor en maak baie opofferings. Hulle is deel van ons spanwerk waarsonder ons geen sukses kan bereik nie.”

– Luister hier na een van die koor se optredes tydens die kompetisie:

https://www.facebook.com/100050039182635/videos/pcb.848461920165106/280419651156358

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button