Local newsNews

Universiteitsmaats se epiese tog goed op dreef vir waterprojek

"Ek is in my veertigs. Dit is tyd vir 'n binne-reis en om op 'n opname van my lewe te maak."

Wanneer mense hul veertigs bereik, klim sommige Berg Kilimandjaro, terwyl ander epiese staptogte aanpak, en dan is daar ook diegene wat om die wêreld seil.

Jy kry ook diegene wat hul motorfietse vir ’n goeie saak en die soeke na die self deur stof en modder laat brul.

Twee energieke gesinsmense, internasionaal-bekende sielkundige van die Moot, dr. Jean Cooper en sy Australiese universiteitsvriend, dr. De Witt Oosthuizen, val in hierdie kategorie.

Die duo sien kans om vanaf 16 September sowat 16 000km vanaf die Fonteinesirkel na Madrid hul ysterperde se wiele te laat sing vir liefdadigheid.

Hulle onderneem die 85-dae lange onbegeleide Expedition H2O-tog al langs die Weskus van Afrika as ’n fondsinsamelingsprojek vir die Direct Transact Stigting se waterprojekte.

Met die ingesamelde fondse sal watertenks vir waterarm dorpe in die Vrystaat aangekoop word.

Daar is reeds sedert die projek in 2021 afgeskop het, 65 reënwatertenks aan gemeenskappe uitgedeel.

Die twee oud-inwoners van Tukkies se Sonop-koshuis deel ’n avontuurlike lewensuitkyk sowel as ’n ingesteldheid om ander te help.

Cooper het al vele ultra-marathonmedaljes losgehardloop, terwyl Oosthuizen talle middel- en langafstandwedrenne voltooi het.

De Witt Oosthuizen (links) en Jean Cooper (regs), twee universiteitsmaats van die negentigerjare vertrek op 16 September vanaf die Fonteinesirkel per motorfiets na Madrid.

Hulle het in 1996 in Sonop ontmoet.

Cooper is tans ’n bestuurkonsultant wat veral topbestuurslede mentor in Pretoria.

Een van sy kliënte, Direct Transact, het hom vertel van hul Ezenzeleni waterprojek. Hy het besluit om betrokke te raak.

“Mens moet een of ander tyd vir iets groters as jouself begin lewe en strewe,” sê Cooper.

Oosthuizen het medies aan Tukkies studeer en mettertyd ook ’n kwalifikasie in landelike geneeskunde verwerf.

Hy woon tans saam met sy lewensmaat Lindsay in Beechworth, Australië.

Cooper sê hy het nog altyd gedroom om Afrika se agterpaaie kaf te draf tydens sy talle langpadreise deur Suid-Afrika.

Hy en Oosthuizen het deur die jare kontak gehou en toe op dieselfde tyd op die gedagte van ’n langpadreis gekom.

“Ek is in my veertigs. Dit is tyd vir ’n binne-reis en om op ’n opname van my lewe te maak,” vertel hy peinsend.

Hy glimlag darem ook oor die soete toeval dat hy onlangs ’n nuwe motorfiets gekoop het.

Die besluit om met Wes-Afrika se paaie langs te ry, is gebaseer op raad van trokdrywers.

Twee motorfietsryers, drs. Jean Cooper en De Wet Oosthuizen, begin op 16 September vanaf Pretoria na Madrid om geld in te samel vir waterarm gemeenskappe.

Die ervare bestuurders glo hierdie roete sluit die veiliger paaie deur Afrika in.

Madrid is gekies as eindpunt omdat beide vriende daar het en ook dat Husqvarna, die maak wat hulle ry, ’n bekende motorfietsnaam in Europa is.

Die tweestuks beplan nie om van dorp tot dorp te ry nie, maar om eerder sowat 300km per dag af te lê.

“Ons gaan elke dag vat soos hy kom met Google Maps wat ons ’n aanduiding kan gee waar ons is,” verduidelik ’n rustige Cooper.

Hul ysterperde, twee Husqvarna-veldfietse, sal noodwendig kronkel- en grondpaaie in hoë humiditeit naby die ewenaar moet trotseer.

Hier sal die twee hulle hul weg deur lande soos die Demokratiese Republiek van die Kongo en Kameroen moet trotseer.

Dr. Jean Cooper van die Moot saam met sy seun Francois.

Altesame sal hulle deur 20 lande ry.

Oosthuizen benadruk hul gereedskaps- sowel as noodhulpkissies is reeds gepak.

Ander logistieke is ook in plek. Visa’s en inentings teen siektes soos cholera en geelkoors. Helms, stewels en handskoene is nagegaan.

“Die motorfietshandelaars het ons so ’n basiese opleidingskursus in versiening van die fietse gegee. As motorfietsveterane weet ons darem wat om te doen met bande wat sukkel.”

Hy verduidelik nuwe bande sal in in Lagos vir die fietse opgesit word.

Nie een van die twee sal ’n ondersteunende rug- of nekharnas tydens die rit dra of wapens saamneem nie.

“Ons pak die rit ook aan om beide in ’n nuwe ritme vir ons lewens te kom. Dit beteken ook jy moet weet wat om te vat en wat om te los in vele opsigte,” peins Oosthuizen.

Kliek hier om meer van die twee motorfietsryers se voornemens te sien: https://www.facebook.com/reel/862918058590146

Laerskool Pierneef verfris naamgenoot se graf vir 70e verjaarsdag

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button