Motorfietsryers op epiese tog deur Afrika in Europa
Twee oud-Tukkies het hul droom bewaarheid deur met twee motorfietse via die Wes-Afrika-kus van Pretoria na Europa te ry en kom in die tweede week in Desember in Madrid aan.

Expedition H2O, die epiese motorfietsliefdadigheids-ekspedisie van Pretoria na Madrid, het vandeesweek die Afrika-kontinent verlaat en sal teen middel van die tweede week in Desember hul eindpunt in Madrid bereik.
Net meer as 12 weke gelede (16 September) het twee ou vriende, Moot-inwoner dr. Jean Cooper en dr. De Witt Oosthuizen, ’n motorfietsreis van meer as 17 000km vanaf Pretoria langs die Weskus van Afrika na Madrid aangepak.
Vanaf die begin van November, toe die twee in Abeokuta in Nigerië was, het die Husquavarna’s se wiele aangerol na Benin.
Hiervandaan sou hulle dan na Togo vertrek.
Skaars daar is hulle geneem na waar daar ’n reusestandbeeld is van die leidster van die destydse gevreesde groep krygers, die Amasones.
Cooper vertel hoe die oorgang hierna na Accra in Ghana op Dag 46 weer doeane-moeilikheid sou bring, of so het hulle gedink.

Tot hulle verbasing het vriendelike polisielede hulle van Lomé na Accra begelei.
Die onverwagse bonus is deur ’n Ghanese regeringsamptenaar gereël. Die volgende dag het hulle ontbyt geniet saam met ’n adjunkminister waarna hulle by ’n skool toesprake oor hul wedervaringe gegee het.
Op Dag 50 is hulle weer deur die res van Ghana na die Guinese grens begelei. Hier het drie ure se gewag met paspoortkontroles hulle opgehou.
Min sou hulle weet hierdie wagtydperk sou die minste van hul probleme wees.
In Guinee, waarnatoe hulle op pad was, het ’n vorige diktator ontsnap uit die tronk.
Na ’n ruk se gewag, het hulle gelukkig die groen lig gekry.
“Ons het nou ’n strategie gehad vir grensoorgange: Nederigheid!” vertel Cooper.
Na so drie dae se reis moes hulle 450km in een dag vanaf Nzerekere aanpak. Hier beland Oosthuizen amper in ’n ongeluk met ’n vragmotor.
Teerpaaie word toe ook krummelpaaie. Oosthuizen verloor tydens ’n skramse ongeluk sy sak met geld en paspoorte, maar kom dit eers later agter. Hy ry terug en vind dit onaangeraak.
Hierna het oerwoude voorgelê vanaf Farnah. Skielik midde-in die oerwoude, bevind hulle hul egter op ’n perfekte stuk teerpad gebou en gefinansier deur die Chinese regering.

Die stukkie genade van ’n perfekte pad is egter kortstondig.
Gou ry hulle weer agt ure aan slegs 250km. Hulle druk deur en vervang filters en olie om die pad aan te pak na Senegal.
Op Dag 59 is hulle op die soom van die Sahara-woestyn waar dit 42ºC in die middag is.
Hulle bereik Senegal na die motorfietse en hul bagasie saam met hul oorgeroei word.
Sowat 3 000km se woestynpad strek nou voor hulle.
In St Louis in Senegal kry hulle uiteindelik ’n lang-begeerde Mojito en vertrek gou na Nouakchott in Mauritanië.
Hier bestuur Cooper so swaar op ’n pad dat hy skoon die afdraaipad verbyry. ’n Selfoonoproep van Oosthuizen red hom.
In Nouakchott kry hulle uiteindelik tyd om baarde te laat knip en word uitgenooi om by nog ’n skool te praat.

Hiervandaan is dit nog 700km deur die woestyn.
“Net ’n witwye niksheid,” beskryf Cooper dit.
Nou het hulle in Nouadhibou begin uitsien na die skof na Marokko. Toe hulle wel in dié land aankom, stop hulle om ’n siek vriend, wat hulle op die pad bevriend het, te groet.
Van Bir Gandhouz na Dakhla is die wind van voor in die woestyn so sterk dat hul petrolverbruik hul begin bekommer.
Maar op Dag 71 is daar geen wind van voor nie – nie letterlik of figuurlik nie.
In Laayoune in Marokko voel dit vir die twee soos Europa, eetplekkies, koffiewinkels en blink winkelvensters.
“Sentraal en Wes-Afrika was nou ver en vergete,” sê Cooper.
Die volgende dag is hulle styf en koud gery nadat die temperatuur tot onder 20ºC in Marokko geval het op pad na Agadir.
Hier aangekom voel dit vir Cooper asof hul Afrika-avontuur verby is al is daar nog verskeie dae van reis voor.
Uiteindelik kan hulle ook bande omruil en hoef hulle die volgende paar dae nie meer met ekstra bande te ry nie.
Nou was dit nog net 1 000km tot waar die veerboot na Spanje wag.
Van Agadir na Marrakech het dit vinnig teen 120km/h op die hoofweg gegaan.
Daar was ook die blye oproep van ’n handelaar in Madrid wat belang gestel het om hul fietse te koop.
In ’n stadium het die twee beoog om hul fietse van Rotterdam na Suid-Afrika te laat verskeep. Dit sou egter ekstra reisure beteken.
Die fietse sal dus nie ten duurste huis toe gestuur hoef te word per boot of vliegtuig nie.
Die vooruitsig om Madrid spoedig te bereik raak vir hulle in Marrakech ook nou werklik.
Ook raak dit ’n moontlikheid om Kersfees tuis te wees.
“Ons was soos perde wat stal geruik het,” lag Cooper.
Na Marrakech wag Rabat waar Oosthuizen se koppelaarkabels dringend vervang moes word. ’n Paar dae later, aan die begin van Desember, steek hulle met die fietse aan boord van ’n boot die Straat van Gibraltar oor.
Afrika het regs en Europa links op die horison gewink.
Die einde was in sig. Hulle beoog om rondom die einde van die tweede week van Desember in Madrid aan te land.
Bykans 17 000km verder, en soos Cooper sê met die wete: “Afrika het haar hand oor ons gehou en iets van haarself aan ons geopenbaar.”
– Om by te dra tot die twee dokters se projek om waterarm gemeenskappe in die Vrystaat te help, skenk deur Back-a-Buddy (tik ExpeditionH2O in).
– Kliek hier om die motorfietsryers en ’n vriend Ian Horan te sien: https://www.facebook.com/reel/1694876944272362
– Rekord het die paar in hul voetspore gevolg. Lees gerus hier van hul wegspring in September uit Pretoria:
https://www.citizen.co.za/rekord/news-headlines/2023/09/08/universiteitsmaats-se-epiese-tog-goed-op-dreef-vir-waterprojek/
So het hul reis tot in Wes-Afrika verloop:
https://www.citizen.co.za/rekord/news-headlines/local-news/2023/11/02/tien-dae-van-rillerpaaie-vir-pretoria-motorfietsryers-op-pad-na-madrid/
Cooper is ’n wêreldbekende organisasie-sielkundige, wat die hoof mense -en kultuurbeampte by die Fintech-maatskappy Direct Transact is, terwyl Oosthuizen ’n bekroonde noodgeneeskundige dokter van Wangaratta in die Australiese agterveld (Outback) is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.