Local newsNews

Aspoestertjies en prinse in herwinbare balklere almal omgewingswenners

Deelnemers aan ’n kompetisie by ’n laerskool en hul ouers se vernuf en vindingrykheid is beproef toe hulle balklere van herwinbare materiale moes maak.

Alhoewel Cathrenette Visagie van Kameeldrift-Wes nie ’n eerste plek verwerf het in haar herwinbare koerantrok vir die Mej. Tuine-kompetisie nie, is sy ’n wenner in haar ma se oë.

“Ek het haar gesê sy sal altyd ’n wenner in my opinie wees want sy het deelgeneem in ’n oorspronklike skepping wat ’n idee bevorder waarin ons glo: herwinning,” sê Marinda.

Haar tienjarige dogter en bobaas sagtebalspeler, vanjaar in graad 4, het deelgeneem aan die Laerskool Tuine se Mnr. en Mej. Tuine-kompetisie met die tema Aspoestertjie: Herwin.

Die gesoute sportdeelnemer speel in die boulerposisie van die Laerskool Tuine se sagtebalspan. Die span het tweede in die Pretoria-liga vir laerskole gekom.

Die sprokieskaraktertema van die kompetisie het egter met ’n sonderlinge verskil en uitdaging gekom.

Die balrokke moes van herwinbare materiaal gemaak word.

Alexa Smit (links) en Cathrenette Visagie.
(beide ouers het toestemming vir pics gegee)

Cathrenette (’n samevoeging van haar twee oumas se name), het onder leiding van haar pa Herman en Marinda op blou plastieksakkies en koerante sowel as saamgevlegte swart vullissakke as materiaal vir die rok se vervaardiging besluit.

Die ontwerperskepping was nou wel nie haute couture nie, maar is op ’n tipiese A-lyn met ’n wye uitskoprok-ontwerp geskoei.

Herman het aan die hand gedoen dat ’n ballet–tutu as ’n basis vir die korset van die boonste gedeelte gebruik word.

Hy het geesdriftig die proses aangepak om die gedeelte van die skepping met ’n vernishardelaag te verf.

“Ons het twee dae daaraan gewerk met haar sussie van vyf, Lily-Ann, wat net so graag wou saamwerk,” vertel Marinda.

Op die groot aand die eerste naweek in Desember, het die deelnemers in die senior en junior seksie trots hulle skeppings soos wafferse modelle op die loopplank in die skoolsaal geparadeer.

Daar was vele uitrustings wat swart vullissakke en koerantpapier as tema gehad het.

Daar was ook spogrokke van verwerkte goiingsakke, borrelplastiek en vele supermarksakkies. Selfs ’n rok wat van ou speelkaarte aanmekaar gesit is!

Nie modehoofstad Parys in Frankryk kan moontlik tydens Modeweek soveel vindingrykheid ten toon stel nie.

Net een klere-item was spoggerig en splinternuut aan die Aspoestertjies en prinse se uitrustings.

Dit was die spoggerige skoene waarrondom die sprokie se storielyn draai.

Hier het veral die meisies gespog met sprankelende glansskoene in silwer en goud met kort hakkies.

“Almal het die aand só geniet want ons moes kreatief wees. Dit was iets heeltemal anders,” vertel Marinda.

Tuis het die Visagies self ’n sisteem veral rondom waterbesparing aangesien hulle op ’n hoewe bly.

“Ons glo aan die herwinning van gebruikte water en die hersirkulasie daarvan. Ook met ander materiale glo ek, elke stukkie wat jy kan bespaar en op ’n ander manier kan gebruik, dra by tot herwinning,” sê Marinda.

– Die uitslae van die kompetisie: Mej. Herwin Junior: Nadia Kruger; Mnr. Herwin Junior: Kiano Lubbe; Mej. Herwin Senior: Renesmé Holtzhausen; Mnr. Herwin Senior: Aiden Bosch

Lees ook: Mel die Storieverteller brings her side-splitting show to Lynnwood

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button